Kurperboerdery bring groot vreugde
’n Opkomende kurperboer van Bela-Bela meen natuurlike faktore is ’n baie beter oplossing om die watergehalte in damme en riviere te reguleer as duur chemiese prosesse — en dan kan dit boonop winsgewend wees.
Die Pos het by Johan Moolman, ’n inwoner van die Noodhulp-hoewes buite die dorp, gaan kuier. Hy boer die afgelope twee jaar met kurpers in ’n dam op die hoewe.
“Die visse hou die groei van alge in die dam in toom en eet muskietlarwes. Dit is wetenskaplik bewys dat visse in ’n dam die watergehalte kan verbeter en die volwasse visse word ’n goeie voedselbron.”
Moolman, wat op sy dag as buikspreker, hipnotiseur, plofstofkundige en bouer gewerk het, sê sedert hy dié boerdery sowat twee jaar gelede begin het, brei die boerdery net uit.
“Ek het baie raad by Dereck James, wat voltyds ’n kurperplaas op Noodhulp bedryf, gekry. Sy kurperboerdery het mettertyd al hoe meer winsgewend geword soos wat die aanvraag na dié visse toegeneem het.”
Moolman het aanvanklik probleme ondervind met voëls soos Bosveld-visvangers wat die kurpers uit die dam gevang het. James het by sý boerdery groot tonnels opgerig wat die voëls buite hou en die temperatuur van die water konstant hou. Moolman sê hy het egter besluit om ’n staalraam te vervaardig en met leë plastiekbottels te vul om die damoppervlak te bedek. Die voëls kry nie kans om jag te maak op die visse nie en die plastiek dien as buffer vir die uitstraling van hitte en sodoende word die watertemperatuur konstant gehou.
Daar is volgens hom ’n groot belangstelling in visvangmoontlikhede. Daar is boere wat reeds groot skole vis in hul plaasdamme gevestig het. Dit kan hengelsport in die toekoms bevorder, het Moolman gesê.
Uit ’n opvoedkundige oogpunt is dit altyd vir die jongspan ’n aangename ervaring om visse te voer.
“Dit is belangrik dat boere ingeligte besluite neem oor die soort kurperspesies wat in die Bosveld oorleef. Sommige kurperspesies kan byvoorbeeld in min water oorleef.
Die verkeerde spesie, soos die Nyl-kurper, kan ’n hele dam vol dooie visse tot gevolg hê,” het Moolman gesê.