Local newsNews

Totsiens ons lagbek-seuntjie

“Wie ook al Arrie se hart kry, gaan die heel mooiste hart kry wat nog ooit beskikbaar was.”

Desmond en Sibbie Swart van Modimolle moes vandeesweek swaar afskeid neem van hul agtjarige seuntjie, Arno Swart, nadat hy op Vrydag 31 Januarie voor sy huis op sy fiets raakgery is. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen.

Die dokters het op Maandag 3 Februarie bevestig dat Arno geen breinfunksie toon nie, en sy ouers het die besluit geneem om sy organe te skenk.

 

Arno Swart, wat deur inwoners van Mo-
dimolle as ’n “lagbek-seuntjie” beskryf word, het die afgelope week gesterf nadat ’n voertuig hom getref het. Dié foto is van hom en sy ma, Sibbie, voor die ongeluk.

 

Die tragedie het gebeur toe ’n bussie wat kinders van die Abraham Kriel-kinderhuis van die skool af vervoer het, Arno teen ongeveer 13:00 getref het toe hy in die pad voor sy huis in De Beerstraat gery het. Die kinderhuis is net ’n entjie verder geleë. Dit was ’n atletiekdag vir van die laerskole en daar was nie formeel skool nie.

Volgens mense op die toneel het die kinders in die bussie groot geskrik en kinderhuis toe gehardloop.

Nicolene Findlay en haar ma, Judith Dreyer, wat langs die Swart-gesin woon, het die slag gehoor en onmiddellik uitgehardloop. Hulle was eerste op die toneel en het by Arno gebly totdat die ambulansdienste opgedaag het. Verbygangers en bure het onmiddellik hulp verleen.

Arno is gestabiliseer en na dr. Louis Pienaar se spreekkamer geneem totdat ’n helikopter by die begraafplaas kon land om hom na die Garden City-hospitaal in Johannesburg te vervoer. Hy het reeds op die toneel in ’n koma verval.

Desmond en Arno se ouer boetie, Roedolf, was by hom totdat die noodhelikopter hom kon vervoer. Sibbie was in Pretoria vir sake en is inderhaas Garden City-hospitaal toe.

Die onverwagte gebeurtenis het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Ouers en hul kinders het op Maandagoggend 3 Februarie by Laerskool Nylstroom byeengekom om vir Arno en sy gesin te bid. Dokters het later die dag bevestig dat daar geen breinfunksie meer is nie.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het bevestig dat die polisie die omstandighede rondom die ongeluk ondersoek.

Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, het haar hartseer uitgespreek. “Ons is so jammer dat een van ons voertuie Arno getref het. Ons harte gaan uit na sy ouers en familie.”

Sy het gesê die kinderhuis se forensiese maatskaplike werker gee berading aan die kinders en die bestuurder, wat erg getraumatiseer is.

Van die inwoners wat in die straat woon, het gesê voertuie wat in die smal pad parkeer, belemmer bestuurders se sig.

Sibbie het Dinsdag op ’n Facebook-groep wat vir Arno gestig is, geskryf: “Vandag het ons wakker geword met die wete dat Arno sal voortleef in ons harte tot die einde van ons dae. Ook met die wete dat hy nie net ’n sonstraaltjie in ons lewens was nie, maar in so baie ander s’n. Ek en Desmond en ons twee ander pragtige kindertjies, Roedolf en Isabella, wil elkeen uit ons harte bedank vir liefde, ondersteuning en die miljoene gebede wat julle vir ons en namens ons gedoen het. Sonder julle weet ek nie hoe ons op hierdie punt sou kom nie.”

Foto’s van die lewenslustige blondekoppie is deur vriende en die ouers van sy maats op Facebook geplaas. Ook die parkrun het ’n foto van Desmond en Arno, ’n gesoute drawwertjie, geplaas om hul meelewing te betoon.

Sibbie het bevestig dat hy op Vrydag 7 Februarie om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk in die dorp begrawe sal word.

Related Articles

Back to top button