Local newsNews

Sakeleiers sit koppe bymekaar

Die Naboomspruit-sakekamer het op Donderdag 23 Januarie sy eerste vergadering vir die jaar gehou.

Die beoogde nuwe inkopiesentrum op die dorp is onder meer bespreek. Volgens die bestuur is sakeleiers van die dorp nie positief oor die beoogde sentrum nie.

“Die oprigting van die winkelsentrum is weens verskeie redes ’n groot bron van kommer. Die voorsiening van water en elektrisiteit vanuit die bestaande stelsels, wat reeds onder druk verkeer, is een van die kwelvrae wat bespreek moet word. Die ander vraag is of die dorp oor genoeg koopkrag beskik,” het Mokone du Preez, voorsitter, gesê.

Hy het ook gesê daar moet seker gemaak word dat die oprigting van sulke sentrums tot voordeel van die dorp se ekonomie is.

Indien bestaande sakeondernemings verliese gaan ly, sal dit ’n negatiewe uitwerking op kleinondernemings hê.

Die sakekamer se eerste prioriteit is nou die herstel van slaggate in Vierdestraat wat baie verkeer dra.

Die teer en benodigdhede is reeds aangeskaf om die gate op te vul.

Raadslid Hercules Louw en burgemeester Marlene van Staden is besig om die ondraaglike rioolsituasie in Wyk 6 te probeer oplos, asook die toestand van die stortingsterrein. ’n Ander saak wat dringend aandag moet kry, is die oprigting van onwettige strukture.

Die sakekamer het besluit om in 2020 daadwerklik aandag te skenk aan werkskeppingsprogramme in die dorp. Aangesien die veiligheid van die gemeenskap voorkeur geniet, het die sakekamer aanbeveel dat inwoners by die plaaslike gemeenskapspoliëringsforum aanluit.

Indien ander veiligheidsgroepe gestig word, moet hul seker maak dat hulle ingevolge wetgewing bestuur word.

Die inwoners is ook versoek om water spaarsamig te gebruik. Daar is tans ’n hoëvlakondersoek aan die gang oor bewerings dat sekere grondeienaars onwettige damme bou in die spruite en rivierlope wat die Frikkie Geyserdam voed. Die damvlak is tans slegs 18% en voldoen nie in die aanvraag nie.

Die riete in die dam sal met behulp van die Working on Fire-span (WOF) en plaaslike boere bespuit en later verbrand word. Die WOF-span is ook besig om die kraglyne by Boekenhout, Tinmyne en Rondalia oop te kap, omdat daar soms onnodige kragonderbrekings voorkom.

Louw het voorts bevestig dat die waterprojek van die Tinmyne af voortgaan. Dié water sal eers gesuiwer word voordat dit in opgaartenks gestoor word.

“Die hele dorp sal moet saamstaan om te verseker dat ons vooruitgaan. Daar is nie plek vir partypolitiek wanneer dit kom by ons dorp se veiligheid, ekonomie en infrastruktuur nie,” het Du Preez aan Die Pos gesê.

Die sakekamer nooi nuwe sakelui om aan te sluit by die forum.

Related Articles

Back to top button