Local newsNews

Meer tyd vir kommentaar oor grondsake

Suid-Afrikaners het nou tot Saterdag 29 Februarie geleentheid om kommentaar aan die parlementêre hersieningskomitee te stuur rakende grondonteiening sonder vergoeding en die wysiging van die grondwet hieroor.

Die uitstel volg nadat die komitee die spertyd van Vrydag 31 Januarie weens verskeie redes verleng het. Volgens ’n parlementêre verklaring kon die publiek nie ’n ingeligte besluit neem in die kort tydperk sedert die sperdatum in Desember in die Staatskoerant gepubliseer is nie. Daar was ook bewerings dat sekere mense se kommentaar, wat hulle per e-pos aan die parlement moes stuur, geblokkeer of nie deurgestuur is nie. AfriForum het op Donderdag 30 Januarie hul regspan opdrag gegee om hierdie bewerings te ondersoek.

Volgens die komitee is 46 van die 140 000 voorleggings geweier weens die anti-virusprogramme wat by die parlement gebruik word. Die programme het van die e-posse as gemorspos beskou.

Dr. Matsole Motshekga, komiteevoorsitter, het gesê die komitee het nog geen besluit geneem oor die publiek se insette oor die beoogde wysiging nie.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het by navraag gesê die druk van AfriForum en die wydlopende besware oor die onbillike spertye vir voorleggings, het die proses gestuit. Die feit dat daar ook ’n voorstel uit ANC-geledere was dat die howe nie betrokke hierby moet raak nie, het ook moontlik tot die uitstel bygedra.

AfriForum het reeds in 2018 aansoek gedoen om ’n hofbevel te bekom wat die grondwetlike hersieningskomitee se aanbeveling om die grondwet te wysig, tersyde stel. Dié aansoek behoort na verwagting later vanjaar voor die hof te dien.

AfriForum doen ’n beroep op lede van die publiek wie se voorleggings aan die parlement geblokkeer is, om die inligting direk aan AfriForum te stuur by ledesake@afriforum.co.za(.)

Voorleggings oor die wetsontwerp kan steeds aan Vhonani Ramaano gerig word by section25@parliament.gov.za(.)

  • Annette Steyn, DA-skaduminister van landbou, het intussen reaksie ontvang van die minister van landbou, bosbou en visserye, Thoko Didiza, op haar vrae oor grondhervorming. Dié vrae is reeds in November by die parlement ingedien.Steyn het vrae gevra oor die hoeveelheid grond in Limpopo wat die regering tans aan begunstigdes verhuur, hoeveel regeringsgrond nie oor wettige huurkontrakte beskik nie, asook die totale huurinkomste wat uit dié eiendomme ontvang word. Die minister het in reaksie gesê daar is tans 218 eiendomme wat oor die nodige huurkontrakte beskik, maar daar is 609 eiendomme waarvoor daar geen huurooreenkomste is nie.

    Die minister het die redes toegeskryf aan rompslomp wat die administrasie van dié ooreenkomste betref en ook etlike gevalle van onwettige grondgrype.

    Volgens Didiza het die regering tussen April 2019 en November 2019 slegs R252 391 se huurinkomste ontvang.

Related Articles

Back to top button