Local newsNews

Geskiedkundige toer leersaam

Mauritz Hansen, bekende inwoner van Mookgophong en geskiedeniskenner, het op Donderdag 9 Januarie ’n groep mense gelei om die geskiedkundige plekke in en om die dorp te besoek.

Hansen het in 2010 ’n boek, Eeu van Genade, die lig laat sien waarin 100 jaar van die geskiedenis van “Naboomspruit” opgeteken is. Altesame 96 mense van Polokwane, Mokopane, Sterkrivier, Die Oog en Mookgophong het die oggend saam met Hansen vertrek op die Naboomspruit- en Anglo-Boereoorlog-dagtoer.

Die groep het vroeg die oggend vanaf Laerskool Eugène N. Marais vertrek en elkeen moes ’n piekniekmandjie pak met verversings vir die dag.

Die hoogtepunt was die besoek aan die grafte van gesneuweldes tydens die Anglo-Boereoorlog. Die groep het ook die monument besoek wat opgerig is vir die Gordon Highlanders wat op 4 Julie 1901 gesterf het toe genl. Christian Beyers en sy manskappe ’n trein met Engelse soldate by Tobias-zijn-loop, net buite die dorp, laat ontspoor het.

Volgens Hansen het lt. AA Best met 36 van sy manskappe gesterf. Die res is as krygsgevangenes geneem. Die lokomotief van die trein is met ’n geweerloopbom die lug in geblaas en die waens het toe ontspoor. Volgens Corné Pohl, wat ook op die toer was, was dit ’n belewenis om die grafte te besoek en al die inligting en volksverhale te hoor.

“Dit is wonderlik om te ervaar dat daar ’n herlewing by mense plaasvind ten opsigte van ons geskiedenis en veral die geskiedenis van ons omgewing,” het Hansen aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button