Local newsNews

Ongeluk eis lewe van jong Vaalwater-ma

’n Jong ma van vier kinders is onverwags van haar gesin weggeruk nadat sy kort voor Kersfees dood is in ’n motorongeluk tussen Vaalwater en Modimolle.

Carine Botes (35) en haar man, Henk, was op Donderdag 19 Desember in ’n ernstige motorongeluk. Volgens Marinus van Dyk, Botes se pa, het hul voertuig teen ’n stilstaande trekker wat sonder ligte in die pad gestaan het, gebots. Die ongeluk het aan Vaalwater se kant van die “nek” gebeur. Die egpaar se kinders was nie saam met hulle in die motor nie.

Carine is op die toneel oorlede en Henk, wat ernstige beserings opgedoen het, is na die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle gehaas. Hy is daarna na die Benoni-hospitaal oorgeplaas waar hy ’n ruk in die intensiewesorgeenheid behandel is. Hy het ’n wond onder die keel en ’n gebreekte been in die ongeluk opgedoen.

“Henk is uit die hospitaal ontslaan. Sy been is steeds in ’n moon boot en hy het nog swelling aan die wond onder sy ken, maar dit gaan elke dag beter,” het Van Dyk gesê.

Carine, wat haar lewe lank in Vaalwater gewoon het, het deeltyds by Swanevelder Wildomheinings gewerk, maar het ook hul kinders tuis onderrig. Sy is op Saterdag 4 Januarie in Vaalwater te ruste gelê.

Sy laat haar man, Henk, kinders Arina (15), Chanél (13), Elmarie (7) en Leani (4), haar ouers Marinus en Engela van Dyk, haar suster Rosél Swanevelder en skoonouers Frik en Trudie Botes agter.

Related Articles

Back to top button