Local newsNews

Vakansieverkeer eis verskeie lewens

Die N1-snelweg, hoofslagaar vir vakansieverkeer deur Limpopo, het die afgelope maand verskeie lewens geëis.

Die verkeer het vanaf Sondag 5 Januarie toegeneem soos wat mense teruggekeer het van hul vakansiebestemmings uit buurlande en die noorde van die provinsie en gevolglik was die snelweg oudergewoonte druk besig.

Vyf mans is op Dinsdag 31 Desember in ’n grusame ongeluk suid van Polokwane dood. Die Kia-sedan waarin hulle gery het, het teen ’n petroltenkwa gebots en die tenkwa het aan die brandgeslaan. Vier van die Kia se insittendes is volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, op die toneel dood en ’n vyfde man is in die hospitaal dood. Die Kia het glo voor die aankomende verkeer ingeswenk. Die bestuurder van die petroltenkwa is ongedeerd.

Twee mense is op Donderdag 2 Januarie dood in ’n tragiese ongeluk op die snelweg, suid van Mokopane.

’n Toyota Land Cruiser en ’n Toyota Yaris het albei in ’n suidelike rigting gery toe die ongeluk gebeur het.

Die bestuurder van die Land Cruiser, het ’n waentjie gesleep.

Die bestuurder en ’n vroulike passasier is dood.

’n Kleuter, ’n sesja-rige kind en twee ander volwassenes in die voertuig is in die hospitaal opgeneem. Die drie mense in die Yaris is nie beseer nie.

Motorryers is gewaarsku om waaksaam te wees by die oorbrug naby Mookgophong. Kinders het glo ’n voertuig op Vrydag 3 Januarie met ’n klip raakgegooi.

Dit het die voertuig se voorruit getref, maar gelukkig is niemand ernstig beseer nie. Dit was glo nie die enigste voorval waar kinders klippe van die oorbrug op voertuie gegooi het nie.
Die polisie en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum het probeer om die oortreders op te spoor, maar tevergeefs.

Die bestuurder van ’n Hyundai H1-bussie het voorts op Sondag 5 Januarie beheer oor sy voertuig verloor op die snelweg by Mookgophong en die voertuig het omgeslaan en herhaaldelik gerol. Twee jong dogtertjies van twee en sewe jaar oud, asook ’n 50-jarige vrou, is dood.

Volgens Mojapelo het een van die voertuig se bande moontlik gebars, waarna die bestuurder beheer verloor en dit in die aankomende verkeer beweeg het. Die voertuig het in ’n suidelike rigting gery. Agt mense, insluitend die bestuurder van die voertuig, is beseer en na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane gehaas. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Joel Seabi, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het gesê tydens hul wetstoepassingsaksies is daar beslag gelê op verskeie voertuie wat nie oor die nodige permitte beskik het nie. Hy het gewaarsku teen die bestuurders van minibusse en busse wat hul vragte in Gauteng aflewer en dan dikwels haastig is om terug te keer om nog vragte op te laai. Hy het gesê dié bestuurders ry dikwels teen hoë snelhede wat ongelukke kan veroorsaak. Seabi het gesê sigbare polisiëring langs die N1-snewelg is gedurende die feesseisoen verskerp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button