Local newsNews

Monster van ’n luislang maak hom by kwekery tuis

“Dit was die grootste luislang wat ons al ooit hier gekry het — amper 4 m lank.”

Die personeel van die Hartelief-kwekery net buite Bela-Bela op die Thabazimbi-pad het Maandag 16 Desember ’n opwindende ervaring gehad toe een van die werkers ’n enorme luislang by een van die damme gewaar het.

Magda Diedericks, kwekery-eienaar, het aan Die Pos gesê die werkers het nog so ewe rustig by die kwekery opgedaag en oudergewoonte al die slotte oopgesluit toe een van hulle opeens benoud geskree het daar is ’n groot slang.

Die luislang het haarself gehelp aan een van die makoue wat saam met hoenders, ganse en eende in ’n hok aangehou word, het Diedericks vertel. Die kwekery het ’n troeteldierafdeling waar verskeie diere aangehou word en vry rondloop.

“Dit was die grootste luislang wat ons al ooit hier gekry het — amper 4 m lank,” het sy vertel. “Ons moes haar vang sodat sy weer in die natuur vrylaat kan word waar sy hoort.”

Rudi Janse van Vuuren, slangvanger van die omgewing, het volgens haar die slang gevang en in die omgewing van Thaba Monaté op pad na Modimolle vrygelaat.

Diedericks het gesê die ganse op die eiendom het vir twee dae nie naby die dam gekom waar die slang gevind is nie, maar die makoue was dapperder en het dadelik terugbeweeg water toe.

“Ek sou baie graag die pragtige slang wou hou, maar volgens wet moet ’n mens ’n permit van natuurbewaring kry om dié slange aan te hou. Sy was regtig iets om te aanskou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button