Local newsNews

Henk Luüs oorlede

Sy familie onthou hom as ’n “sterk sederboom”.

’n Groot boom het op Maandag 6 Januarie geval toe die bekende en jarelange inwoner van Bela-Bela, Henk Luüs (73), in die Wilgers-hospitaal in Pretoria oorlede is.

Volgens sy familie het Luüs aan die einde van Desember ’n ernstige beroerte gehad wat tot sy hospitalisasie gelei het. Sy toestand het egter versleg en hy is kort daarna oorlede.

Luüs is in Bela-Bela gebore, het in die dorp skoolgegaan en gewerk en het altyd met trots gesê dat hy sy lewe lank in Bela-Bela gewoon het. Hy was die eienaar van Henk Luüs Vervoerkontrakteurs en het dié werk gedoen tot met sy aftrede 15 jaar gelede.

Sy familie onthou hom as ’n “sterk sederboom”. Hy was altyd bereid om ander te help, was uiters vrygewig, ’n legende en strydros tot die einde van sy lewe. Vir die familie was dit ’n voorreg om hom as ’n pa, oupa, broer en vriend te ken.

Sy begrafnisdiens vind op Vrydag 10 Januarie om 15:00 vanuit die Hervormde Kerk in die dorp plaas.

Hy laat twee dogters, Anel Botha en Marli Opperman, sy seun, Jaco Luüs, asook sy broer, Emmie Luüs, en suster, Kokkie Mosterd, na. Luüs was ook die trotse oupa van vier kleinkinders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button