Local newsNews

Bek-en-klou­seer: Verbod duur voort

Die ver­bod soos in die staats­koe­rant ge­pu­bli­seer is, is steeds van krag.

Pro­du­sen­te in die vee­be­dryf het gedurende De­sem­ber angstig gewag vir nuus oor die bek-en-klou­seerkrisis in die landboubedryf, maar dié gewag is skynbaar nie verby nie.

Vol­gens die de­par­te­ment van land­bou, bos­bou en vis­se­ry is daar tot op Woensdag 11 Desember geen nuwe voorvalle aangemeld nie sedert die aanvanklike uit­braak aan die be­gin van No­vem­ber in die Mo­le­mo­le-ge­bied, noord van Po­lok­wa­ne. Teen druktyd op Woens­dag 8 Januarie was daar bewe­rings van drie nuwe uit­brake noord van Pretoria, maar die departe­ment kon dit nie beves­tig nie.

Intussen word vee­veilings en –ver­kope land­wyd ernstig gestriem.

Die eers­te bek-en-klouseer­uit­braak was in Jan­ua­rie 2019 in die Vhem­be-ge­bied en, sover vas­gestel kon word, is die November-uitbraak van dieselfde streek afkomstig.

Tho­ko Di­di­za, mi­nis­ter van land­bou, grond­her­vor­ming en lan­de­li­ke ont­wik­keling, het reeds op Woensdag 4 Desember ’n algehele ver­bod op die vervoer en verkoop van vee in die staats­koe­rant be­kend­ge­maak. Dit het gevolg op die reeds bestaande ver­bod op vei­lings in Lim­po­po, Gau­teng, Noord­wes en M­pu­ma­lan­ga.

Lui­dens die staats­koe­rant moet vee vir 28 da­e in een kraal ge­hou word — son­der nu­we toe­voe­gings — waartydens die pro­du­sent be­wy­se moet le­wer dat die vee siek­te­vry is. Die in­ku­ba­sie­tyd­perk is omdat ­simp­to­me eers ná ongeveer 28 da­e sig­baar word. Simp­to­me sluit in lusteloosheid on­der die­re, se­re in die bek, die­re wat on­wil­lig is om te eet en selfs ver­lam­ming.

Ingevolge die verbod mag vee­ver­ko­pe onder streng maatreëls voort­gaan. Be­wy­se dat die vee nie die siek­te dra nie moet byvoor­beeld gestaaf word deur ’n kla­rings­er­ti­fi­kaat van ’n vee­arts.

Die siek­te is se­dert­ die uitbraak by 11 boerderye aan­ge­tref, waar­na die eien­dom­me on­der kwa­ran­tyn ge­plaas is.

Vol­gens die de­par­te­ment is 70 ander eien­dom­me on­der­soek en die verbod is op vyf van dié plekke ge­lig. Die de­par­te­ment het ver­der ses ne­der­set­tings be­soek en met 315 vee­boe­re in die Mo­le­mo­le-ge­bied, noord van Polokwane, vergader om hul­le tou­wys te maak oor die siek­te.

In ’n op­volg­ver­kla­ring op Sa­ter­dag 4 Jan­ua­rie vanjaar het die de­par­te­ment ge­rug­te dat die Vhem­be-ge­bied bek-en-klou­seer­vry ver­klaar is, as on­waar be­stem­pel. Reg­gie Ng­co­bo, woord­voer­der, het die ge­rug­te as fop­nuus be­stem­pel en raai men­se aan om met plaaslike owerhede te skakel om hulle van die feite te vergewis.

Die ver­bod soos in die staats­koe­rant ge­pu­bli­seer is, is steeds van krag. Dié ken­nis­ge­wing ver­bied nie die ver­skui­wing van vee wat siektevry verklaar is van een plaas na ’n ander, of die pri­vaat vei­lings van in­di­vi­due­le boerderye nie, het Ng­co­bo ge­sê.

Vol­gens in­lig­ting van die Bek-en-klou­seer­fo­rum (BK Fo­rum), wat in No­vem­ber in Be­la-Be­la ge­stig is, word daar na verwagting op Maan­dag 13 Jan­ua­rie ’n vergadering gehou met die be­trok­ke vee­art­se wat by die beheer van die siekte betrokke is.

In­tus­sen is vei­lings­hui­se soos An­dré Kock en Seun, asook Vleissentraal Bosveld, be­sig om hul ont­smet­tings­pro­se­du­res by hul vei­lings­kra­le reg­oor die land te verbeter.

Die staats­koe­rantken­nis­ge­wing kan be­sig­tig word by www.daff.gov.za/daffweb3/Home/Foot-and-mouth. Men­se word steeds aan­ge­raai om e­ni­ge te­kens van die siek­te aan te meld.

Related Articles

Back to top button