Local newsNews

Geliefde ‘tannie Elsie’ oorlede

’n Groot boom het in die vroeë oggendure van Maandag 2 Desember in Bela-Bela geval toe Elsie Dreyer (85), ’n bekende inwoner, by haar huis oorlede is.

Dreyer het lank aan artritis gely, het haar dogter, Henriëtte Engelbrecht, aan Die Pos gesê.

Dreyer is aan die Oos-Rand gebore. Sy het haar skoolloopbaan by Laerskool- en Hoërskool Warmbad begin en aan Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane (Potgietersrus) voltooi, aangesien Hoërskool Warmbad destyds slegs klasse tot in st. 8 (gr. 10) aangebied het.

Sy het haarself as onderwyseres aan die destydse Normaal Kollege Pretoria bekwaam en by Hoërskool Ben Viljoen begin skoolhou. Sy was ook ’n swemafrigter by die skool.

Later het Dreyer as tikster by Unisa gewerk en toe sy in die jare sewentig ’n Warmbadder geword het, het sy by die stadsraad ingeval waar sy 24 jaar lank sekretaresse en tikster vir die stadsklerk gewerk het.

Voor haar aftrede was sy 11 jaar lank die ontvangsdame by Jackie Huisamen Fisioterapeut in Bela-Bela.

Volgens haar dogter word Dreyer veral onthou vir haar uitmuntende taalgebruik en ook as baasbakster en kok. Sy het ook pragtige naaldwerk gedoen en het alle take met ywer en noukeurigheid aangepak en afgehandel.

Van haar resepte is selfs in die bekende Huisgenoot se wenresepteboek gepubliseer.

Ná haar aftrede het sy ’n prominente rol gespeel om ’n oog te hou oor die wetgewing rondom die mediese fondsbetalings van munisipale pensioentrekkers. Dit het gevolg nadat ’n hooggeregshof in die guns van die werkers beslis het.

Haar skielike dood het veral vir die familie en vriende as ’n skok gekom.

“Sy het pyn en lyding ervaar, maar nogtans met haar lewe aangegaan,” het haar dogter gesê.

“Sy was ’n sterk, liefdevolle, omgeemens en ma en sy wou altyd die beste vir haar kinders en kleinkinders gehad het. Sy het ons geleer van stiptelikheid, netheid, dissipline en om deernis en empatie met ander te hê.”

Dreyer se gedenkdiens vind om 11:00 op Dinsdag 10 Desember vanuit die NG-gemeente Warmbad Wes plaas.

Daar sal na afloop van die diens ’n nislegging wees en daarna sal verversings in die kerksaal bedien word.

Dreyer laat haar drie kinders, Henriëtte Engelbrecht, Estelle Vosloo en Christo Dreyer, agter. Sy laat ook haar geliefde skoonkinders, Leon Vosloo en Alice Wan (Dreyer), asook twee kleinseuns, Christiaan en Frederik Vosloo, agter asook ’n kleindogter, Wincy Chan.

Die familie bedank elke vriend, vriendin, familielid asook die gemeenskap van Bela-Bela vir hul ondersteuning, liefde en omgee.

Related Articles

Back to top button