Local newsNews

Groot skade ná hewige reënbui

Die broodnodige reën wat die laaste ruk geval het, het vir sekere inwoners van die Bela-Bela-omgewing groot skade meegebring.

’n Storm het op Donderdagaand 21 November tussen 21:00 en 23:00 losgebars waartydens daar op plekke tot 80 mm reën binne vyf minute uitgesak het.

Van die inwoners het aan Die Pos gesê dit het gevoel asof ’n tornado deur die gebied beweeg het.

 

Dié boom is ontwortel deur die storm.

 

Meer as vyf eiendomme in die Vogelstruispan-omgewing is veral hard getref. Die stormweer het groot bome ontwortel, wonings se dakke afgewaai, spilpunte omgewaai en voertuie beskadig.

Van die inwoners het ook in die duister gesit nadat Eskom-transformators in die storm beskadig is.

 

’n Spilpunt lê in stukke nadat ’n erge storm die Vogelstruispan-omgewing buite Bela-Bela getref het.

 

Die NG-gemeente Warmbad-Wes het in ’n boodskap aan inwoners gevra dat mense diegene wat deur die storm geraak is, van water sal voorsien totdat die probleme herstel is.

Die Tuintuiste-veiligheidsoord net buite Bela-Bela op die Alma-pad is een van die plekke wat deurgeloop het toe vloedwater in mense se huise beland het.

 

Die Tuintuiste-veiligheidsoord buite Bela-Bela is ook deur die storm geraak toe vloedwater deur die oord gevloei het. Op die foto herstel werkers die vloedskade by die hoofhek.

 

Daar word vermoed dat stormwater by die Koppewaai-nedersetting bokant Tuintuiste opgedam het en toe eensklaps deur Tuintuiste gestroom het.

Die vloedwater is gekeer deur die muur wat die Phodi-kliniek en Tuintuiste van mekaar skei en het daarna deur die oord gevloei. Strome water het daarna in mense se woonhuise beland.

Die skade is egter na verneem word gering en teen druktyd was die hope grond by die hoofhek reeds verwyder.

Die merke teen die oord se grensmure het aangedui dat die vloedwater meer as ’n halwe meter diep was. Selfs die hoofhek se motor was onder water en is beskadig.

  • Volgens inligting van die Waterberg-DLU was die gemiddelde reënval van verlede week as volg: Bela-Bela het 34 mm gehad, Radium 50 mm, Lehau 60 mm, Leeupoort 110 mm, Mabula 50-80 mm en in Modimolle 52 mm.

Chris Wagner van die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging het teen druktyd aangedui dat die nasionale verbod op die maak van oop vure danksy dié goeie reënvalsyfers amptelik opgehef is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button