Local newsNews

Polisielede wys steun aan Abraham Kriel

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle glimlag breed nadat hulle besoek ontvang het van meer as 30 lede van die Internasionale Polisievereniging (IPV).

Die vereniging het van 7-11 November hul jaarlikse vergadering by die Weesgerus-vakansieoord buite die dorp gehou en besluit om uit te reik na ’n plaaslike welsynsorganisasie. Lede van regoor die land het die byeenkoms bygewoon.

Die besoekers het die kinderhuis se splinternuwe babahuis besoek. Dit is die nuutste van die kinderhuis se 15 huise waarin daar na 170 kinders omgesien word.

Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, het aan die besoekers verduidelik dat hul huis vir ouer meisies nie so vol was nie, maar dat hulle baie navrae gekry het om na babas en kleuters om te sien. Hulle het die huis aangepas vir die jonger inwoners en onder meer ’n bad geïnstalleer wat gelig is sodat die klein lyfies makliker gewas kan word. Sy het ook verduidelik dat dit soms moeilik is om al die uitgawes te dek. So gou as wat kinders die kinderhuis verlaat, kom nuwes in.

Van der Merwe het ook verduidelik dat kinders wat die kinderhuis op 18-jarige ouderdom verlaat, bygestaan word met hul eerste maand se huur en basiese behoeftes soos ’n bed en huisraad.

Die groep het geskenkpakkies met babaprodukte, babadoeke en meer vir die huis geskenk. Daar is ook ’n splinternuwe mikrogolfoond en ’n tjek ter waarde van R24 000 aan die huismoeder, Francina Segwapa, oorhandig om aan die kinders se behoeftes te voldoen.

Related Articles

Back to top button