Local newsNews

Digter met TT Cloete-prys beloon

Die gedigte wat soos woordenektar uit haar pen drup, het vir Anzé Bezuidenhout ’n uitsonderlike prys besorg.

Sy is onlangs as naaswenner vir die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans se digkompetisie aangewys en het die TT Cloete-prys vir haar gedig “Gebars tot Volmaaktheid” tydens ’n glansaand op Saterdag 9 November in Pretoria ontvang.

Meer as 750 gedigte is vir die kompetisie ingeskryf en sewe van Bezuidenhout se gedigte word in die Stemme van die Suiderland 14-bundel vervat.

Dié digter van die Waterberg se werk is verlede jaar reeds beloon met die GHA se CJ Langenhoven-prys. Dié kompetisie het ’n 15 week lange uitdaging behels om volgens ’n weeklikse tema te skryf waarin verskeie dig- en stylvorms toegepas moes word.

Bezuidenhout het al verskeie digbundels uitgegee, waarvan haar nuutste pennevrug Inkdorings is. Verskeie van haar gedigte verskyn ook in die vroeëre Stemme van die Suiderland-bundels. Sy het verskeie ander digkompetisies gewen.

Dié kreatiewe woordkunstenaar het die webwerf www.ink.org.za geskep waaraan enigeen met ’n liefde vir Afrikaans hul liefde vir taal kan uitleef deur gedigte, rubrieke, verhale, musiek en lirieke.

Bezuidenhout is getroud met die vlakteboer Willie Bezuidenhout. Sy bedryf die IetsiVanAls-padstal buite Modimolle.

Related Articles

Back to top button