Local newsNews

Weerlig slaan grasdak aan die brand

“Hoewel dit gereën het toe die brand ontstaan het, het die huis binne minute tot op die grond afgebrand.”

’n Grasdakhuis in die Sondela-natuurreservaat buite Bela-Bela het op Maandag 11 November afgebrand nadat dit glo deur weerlig getref is.

Die praghuis was in die Makhato-boskamp geleë.

’n Ooggetuie, Jan Pelser, het aan Die Pos gesê hy het ongeveer 05:00 ’n groot donderslag gehoor en kort daarna rook begin ruik.

“Die vlamme was vier huise van ons s’n af. Hoewel dit gereën het toe die brand ontstaan het, het die huis binne minute tot op die grond afgebrand.” Daar was niemand in die huis tydens die brand nie.

Helpers met vuurvegtertoerusting, asook die plaaslike brandweerdiens, het verhoed dat die brand na ander wooneenhede versprei.

Melgard Meyer, woordvoerder van die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging, het gesê weerlig is veral dié tyd van die jaar baie onvoorspelbaar.

“Die wind het die oggend teen ongeveer 40km/h gewaai. As dit nie vir die reën en die ekstra hulp was nie, kon dit erger gewees het.”

Hy het ’n beroep gedoen op eienaars van grasdakstrukture om seker te maak dat hul eiendom aan die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) se voorskrifte, asook die voorgeskrewe bouvereistes, voldoen. Eienaars moet ook seker maak dat hul huisversekering voldoende is en dat weerligafleiers elke twee jaar getoets word.”

André van Staden, lid van die Makhato-bestuurskomitee, het aan Die Pos gesê inwoners en besoekers moet ten alle tye van die brandgevaarindeks in hul omgewing bewus wees. Dit word onder meer op kennisgewingborde in die omgewing aangedui.

Die nasionale verbod op die maak van oop vure is steeds in werking omdat daar nog nie genoeg reën in die omgewing uitgesak het nie, het Meyer gesê.

Related Articles

Back to top button