Local newsNews

Perdekoets dra inwoner op laaste rit

Perdehoewe wat klap teen die teerpad, ’n swart perdekoets en ruiters met wapperende vlae het Hannes Brits (70) op Saterdag 9 November saam met sowat 300 roubeklaers gegroet.

Die bekende sanger Adam Tas het sy bekende liedjies “’n Man soos my pa” en “Gaan sê vir die angels” by die teraardebestelling gesing. Die begrafnisdiens is in die Nederduits Hervormde Kerk in Mookgophong gehou.

Brits, ’n bekende van Mookgophong, is op Sondagoggend 3 November dood nadat hy op pad terug van Bylsteel in die Polokwane-omgewing verongeluk het.

Brits, wat ’n passie vir perde gehad het, was ’n stigterslid van die Bittereinder-kommando, het sy seun Gerhardus aan Die Pos gesê. Die kommando het gereeld kort video’s gemaak en in verskeie dokumentêre programme oor die stryd tussen Boer en Brit in die Boereoorloë opgetree. Die kommando is vernoem na die Bittereinder-kommando, ’n faksie van die Boere se guerrillavegters wat hulle in die Tweede Boereoorlog (1899-1902) teen die Engelse verset het.

Brits en sy vrou, Tilla, en van sy kinders het die Saterdag ’n vriend se 80ste verjaarsdag bygewoon. Brits het die Sondagoggend vroeg huis toe vertrek omdat hy ’n erediens wou bywoon. Sy voertuig het egter die pad byster geraak en hy is op slag dood, het sy familie gesê.

“Oupa het reeds om 06:00 sy terugreis begin, vasbeslote om sy gereelde ontmoeting elke Sondagoggend om 09:00 met die Here na te kom,” het een van die kleinkinders in die begrafnisbrief geskryf.

Brits is in Modimolle gebore, maar het in Mookgophong grootgeword. Hy het onderwys aan die destydse Pretoria Normaal Kollege (NKP) gestudeer. Hy het saam met sy pa begin boer en later die skoolbusse in die dorp bedryf. Hy en sy oudste seun, Gerhardus, het later in die vervoerbedryf betrokke geraak waar Brits tot met sy dood betrokke was.

Die perdekoets wat Brits se kis vervoer het, dateer uit 1906 en word gereeld vir begrafnisse gebruik. Piet Olivier, die koetsier, het dit van Pretoria gebring.

Die kommando het op hul Facebook-blad hulde aan Brits gebring en onderneem om hom te perd en met wapperende vlae na sy laaste rusplek te vergesel.

“Ons het net ’n familiebegrafnis beplan, maar dinge het uitgebrei en sy vriende het besluit om op dié manier aan hom hulde te bring. Die gebruik van die kommando en vlae het geensins ’n politieke strekking nie,” het Gerhardus gesê.

Brits laat sy vrou, vier seuns, Gerhardus, Andries, Paul en Hans, drie skoondogters,’n suster en agt kleinkinders agter.

Andries en sy gesin is perderuiters en het die perdekoets van die kerk na die begraafplaas begelei. Kleinseun André het sy oupa se perd, Voorslag, geërf en tydens die begrafnis op hom gery.

Related Articles

Back to top button