Local newsNews

Nuwe DLU-voorsitter het groot planne

Floris Booysen, bekende boer van die Crecy-omgewing, is as nuwe voorsitter van die Potgietersrus-distrikslandbou-unie (DLU) verkies.

Booysen boer sedert 1991 voltyds op die plaas Saaiplaas. Hy is ook voorsitter van die Crecy-boerevereniging. Hy het aanvanklik saam met sy pa geboer en het die gemengde boerdery in 1994 oorgekoop. Booysen het in 1997 ’n moutfabriek begin en in 2000 begin om met graan handel te dryf en te verwerk onder die handelsnaam Floris Vlakteboerdery T/A Limpopo Grain. Hy plant tans saadmielies, knoffel, sorghum en sonneblomme.

Volgens Booysen was vanjaar een van die moeilikste jare in die boerderybedryf. Hy het gesê boere in die omgewing het talle uitdagings wat betref droogte en geldsake.

Van die boere het by ’n kruispad gekom en het nie meer planne om voort te gaan nie, het hy gesê. “Ons kan ’n paar van ons sterk boere in die volgende paar jaar verloor as daar nie nuwe planne is en die knellende droogte gebreek word nie. Ons hoop dat dit gou sal reën, want weiding is tans kritiek,” het hy gesê.

Beespryse is só laag dat boere nie van hul vee ontslae kan raak nie, sê hy. As voorsitter is dit vir hom ’n uitdaging om boere positief te hou. “Boerdery is nie nou baie winsgewend nie en dit is moeilik om reserwes op te bou omdat winsgrense baie laag is,” het hy gesê.

Veiligheid is ’n groot kopseer op plase en boere werk hard om plase te beveilig. Die DLU onderhandel met ’n veiligheidsmaatskappy en die polisie om hiermee te help. Die kamera-inligtingsnetwerk sal ook uitgebrei en verbeter word, veral in die Roedtan-omgewing, het hy gesê.

“Die uitbreiding van georganiseerde landbou is ’n prioriteit, want hoe meer boere inskakel hoe sterker kan die organisasie wees. Hoe sterker die organisasie op grondvlak is, hoe sterker sal die TLU SA se infrastruktuur wees om namens die boere op te tree,” het hy gesê.

Volgens Booysen het handelsbanke geen genade vir boere nie en word boere se oortrokke geriewe beperk. Dit maak dit moeilik om te oorleef.

Die grondhervormingskwessie veroorsaak baie spanning vir boere en Booysen sê dat hy angstig wag op die nuwe wetgewing wat in Desember aangekondig sal word. Die publiek sal tyd kry om tot in Januarie aanstaande jaar daarop te reageer.

Booysen sê hy is nogtans optimisties en moedig boere aan om positief te bly.

“Ek glo daar sal spoedig uitkoms vir boerderye in Suid-Afrika wees.”

  • Die Potgietersrus-DLU bestaan uit sewe boereverenigings naamlik Hanglip, Sterkfontein, Naboomspruit, Elders, Crecy, Nyl en Roedtan-Suid. Hierdie DLU is deel van TLU SA wat reeds 120 jaar boere ondersteun om voedselvoorsiening te verseker.

Related Articles

Back to top button