Local newsNews

Dié legendes nou beskermhere by kinderhuis

Die kinderhuis se beskermhere is openbare figure wat in hul vrye tyd die kinders help en ophef.

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle het vier bekendes tydens ’n spoggeleentheid in Pretoria as hul nuwe beskermhere voorgestel.

Oud-Springbokkaptein Wynand Claassen, dr. Riekie Smit, ’n mediese praktisyn, die bekende sanger Corlea Botha en Elzaan van der Merwe, ’n motiveringspreker en bekende ontwerper, gooi hul gewig in saam met die groep mense wat na die kinderhuis se belange omsien.

Die kinderhuis se beskermhere is openbare figure wat in hul vrye tyd die kinders help en ophef.

“Ek besef ek sal nooit my eie kinders hê nie, maar my droom was nog altyd om vir ’n huis vol kinders te sorg en vanaand is my droom bewaarheid. Dankie vir die voorreg,” het Botha tydens die gala-aand gesê.

Smit het gesê: “My ouers het ’n kinderhuiskind aangeneem en daar het ek die invloed gesien wat ’n kinderhuis op ’n kind se lewe het. Juis daarom is ek opgewonde om betrokke te raak by die Abraham Kriel-kinderhuis.”

Volgens Claassen moes hy as kind met die minste tevrede wees en daarom aanvaar hy niks as vanselfsprekend nie. Hy wil opstaan vir die underdog en ’n verskil maak in die lewens van die kinders in die kinderhuis. Van der Merwe het beaam dat dit ’n voorreg is om betrokke te wees en gesê sy sien uit om op haar manier ’n verskil te maak.

Die kinderhuis in Modimolle sien na sowat 170 kinders om. Die versorging behels nie net die voorsiening van basiese behoeftes soos kos, ’n bed en klere nie, maar ook liefde, terapeutiese begeleiding en private onderwys vir kinders met spesiale behoeftes.

Die regering finansier minder as die helfte van die kinders se behoeftes; daarom moet gereelde fondsinsamelingsprojekte aangepak word om hul koffers aan te vul. Dié nuwe beskermhere kan help om bewusmaking te kweek.

Volgens Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, wil hulle nie net in die kinders se basiese behoeftes voldoen nie, maar van hulle suksesvolle burgers en lede van die samelewing maak.

“Baie dankie Corlea, Wynand, dr. Riekie en Elzaan dat julle bereid is om jul name, tyd en talente met die kinderhuis te deel en op so ’n wyse ’n verskil in kinders se lewens te maak,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button