Local newsNews

Springbokvlakte treur oor Robbie Weir (80)

Weir was veral bekend vir sy groot liefde vir ou trekkers en enjins.

Die Springbokvlakte het die afgelope week een van sy groot geeste vaarwel geroep.

Robbie Weir, ’n bekende boer, is ná ’n kort siekbed in die ouderdom van 80 jaar oorlede, het sy seun Robert, gesȇ.

“My pa het ’n ruk gelede kanker in sy oog gehad en daarna in sy longe. Hy het eers so ’n maand gelede begin sleg voel,” het Robert gesȇ.

Weir is in 1939 in die destydse St. Vincent’s-hospitaal in Bela-Bela gebore. Hy het aan Lord Milner Primary in Settlers skool- gegaan waarna hy sy skoolloopbaan aan die Waterkloof Preparatory School en Natal Hilton College voltooi het. Hy het op 16-jarige ouderdom gematrikuleer en landbou aan die Universiteit van Natal gestudeer.

“My pa het buite Bela-Bela as landbouvoorligtingsbeampte gewerk en ook as plaasbestuurder vir ’n varkboer op Doornput. Later het hy en sy broer, Craig, op die familieplaas Meisjesvlei tussen Settlers en Tuinplaas geboer. Toe droogte in die 1980’s gedruk het, het my pa vir drie jaar lank skoolgehou by Settlers Agricultural High School,” het sy seun vertel.

Weir was een van die stigterslede van die Springbokvlakte-boerevereniging, die Warmbad-veemarkkrale en was ook betrokke by die eerste tarentaaljagte wat later ’n instelling op die Springbokvlakte geword het.

Weir was veral bekend vir sy groot liefde vir ou trekkers en enjins. Hy en ’n groep afgetrede boere het 14 jaar gelede die Settlers Veteraneklub op die been gebring en ou trekkers tydsaam en sorgvuldig gerestoureer. Dié trekkers word op die dorp uitgestal en een keer per jaar kom trekkergeesdriftiges van heinde en ver om dié ou masjiene weer in aksie te sien.

Hy het nog onlangs tong-in-die-kies in ’n onderhoud aan Die Pos gesê “die trekkermanne het afgespreek dat niemand op ’n Woensdag begrawe sal word nie, want dan sal daar niemand wees om jou kis te dra nie omdat almal by die trekkers is”.

Kotie Wagner, wat jare lank saam met Weir gewerk het toe sy sekretaresse van die destydse Waterberg/Warmbad-DLU was, het in reaksie gesê Weir het die gawe gehad om almal om hom spesiaal te laat voel. “Ek weet nie of hy ooit kon kwaad word nie.”

Niel Swart, afslaer van Bela-Bela wat Weir sowat 25 jaar gelede ontmoet het toe hy as jong veebemarkingsbeampte in die Bela-Bela-omgewing aangestel is, het gesê Weir was een van die nederigste mense in die boerderybedryf. “Hy was die heel eerste boer by wie se plaas ek ingery het om myself te gaan voorstel en daarom het hy altyd ’n spesiale plek in my hart gehad. Hy was ’n mens met ’n gróót hart, iemand met deernis vir sy medemens, ’n legende met sy voete plat op die aarde. Hy was destyds ’n rolmodel vir jong outjies soos ek in die bedryf.”

Weir laat sy vrou Jo, en kinders Celia Petersen, Robert Weir en Susan Koekemoer en hul gesinne agter.

Die egpaar het die afgelope tien jaar in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle gewoon.

’n Gedenkdiens word op Vrydag 15 November om 11:00 in die Gereformeerde Kerk Waterberg in Modimolle gehou. Ná die diens word ’n tipiese Springbokvlakte “ceilidh” (’n tradisionele Skotse byeenkoms) by die Settlers-boeresaal en trekkermuseum gehou waar bier en boereworsrolle bedien sal word.

Related Articles

Back to top button