Local newsNews

Bekende van die Springbokvlakte (86) oorlede

“Hy het die swart turf van die Vlakte op sy stil en opregte manier bewerk en het eerder geluister as om te praat.”

Cor Grobler (86), bekende en jare lange boer van die Springbokvlakte, is op Dinsdag 12 November ná ’n lang siekbed in Bela-Bela oorlede.

“My pa was ’n man van die aarde en so sal ons hom onthou,” het die bekroonde kunstenaar Piet Gobler, sy oudste seun, ná sy pa se dood aan Die Pos gesê.

Grobler was een van vyf kinders en het jare lank op die plaas Gretna in die Settlers-omgewing op die Springbokvlakte geboer.

Hy is op 14 Augustus 1933 in die destydse Nylstroom gebore, maar het in Bronkhorstspruit grootgeword waar hy in die laerskool was. Hy het egter aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer en ná skool aan ’n landboukollege in Ficksburg gestudeer.

Volgens Piet het sy pa teruggekom plaas toe en vir ’n tyd saam met sý pa op die plaas Dagbreek, aangrensend aan Gretna, geboer. Hy was hoofsaaklik ’n saaiboer wat mielies, koring, sorghum, sonneblom en katoen verbou het. “Hy het altyd êrens ’n beesplaas gekoop of gehuur en was lief vir sy diere.”

“Hy het die swart turf van die Vlakte op sy stil en opregte manier bewerk en het eerder geluister as om te praat. Hy was baie gevat met sy sêgoed,” het Piet vertel. “Hy kon soms ’n bietjie kwaad word, maar net vir ’n klein rukkie, want hy was ’n man met ’n klein hartjie.”

Cor het die laaste jare by sy jongste seun, Neels, op die plaas Dan De Loo naby Settlers gewoon en begin 2018 na die ouetehuis in Bela-Bela verhuis.

Hy sal onthou word vir sy jare lange betrokkenheid by die kommando in Bela-Bela en was baie betrokke in die gemeenskap en by die distrikslandbou-unie (DLU) en boereverenigings.

Hy word oorleef deur sy seuns, Piet, Reint, Diek en Neels en ’n dogter Hannelie, sy skoonkinders, sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders. Sy vrou, Hanna (’n nooi Dykema), is in 2013 oorlede.

Sy begrafnis vind op Dinsdag 19 November vanuit die Hervormde Kerk Warmbad plaas.

Related Articles

Back to top button