Local newsNews

Ou kanonpatrone in Bela-Bela ontdek

Ondersoeke dui daarop dat dié patrone tussen 1890 en 1918 vervaardig is en bedoel is vir die ou Engelse Maxim “Pom Pom” outomatiese kanonvuur.

Inwoners en polisielede het verstom gestaan nadat ’n klomp stokou kanonpatrone verlede week sowat ’n meter diep onder die grond in die Koppewaai-omgewing buite Bela-Bela ontdek is.

Munisipale kontrakteurs het op Dinsdag 29 Oktober op dié vonds afgekom terwyl hulle besig was om slote met ’n laaigraaf te grawe. Hulle was besig om rioolpype te lê toe die laaigraaf iets hards getref het.

Hulle het op altesame 25 geroesde kanonpatrone afgekom, waarna die polisie se hulp ingeroep is.

Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie het net betyds opgedaag aangesien ’n inwoner toe glo reeds van die patrone vir homself gevat het om by sy huis vir skroot te gaan smelt. Dié patrone is gekonfiskeer.

Die polisie se bomeenheid in Modimolle se hulp is toe ingeroep om vas te stel hoe die patrone daar beland het.

Volgens ’n woordvoerder van die eenheid dui ondersoeke daarop dat dié patrone tussen 1890 en 1918 vervaardig is en bedoel is vir die ou Engelse Maxim “Pom Pom” outomatiese kanonvuur.

Die Maxim-kanon was ’n wapen wat in die Anglo-boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog gebruik is.

Omdat die patrone destyds met swartkruit gevul is — plofstof wat nie meer vir die weermag vervaardig word nie, maar steeds plofbaar is — is die besluit geneem om die vonds in ’n beheerde ontploffing te vernietig, het die woordvoerder gesê.

Maponya en die bomeenheid se lede het gesê hulle het geen idee hoe die patrone buite Bela-Bela beland het nie. Maponya het voorts gesê indien inwoners op sulke ontdekkings afkom, hulle die polisie dadelik daarvan in kennis moet stel om enige ongelukke te voorkom.

Related Articles

Back to top button