Local newsNews

Vrou (48) kry miljoene ná suurongeluk in Modimolle

“Ek was in my voertuig en het onmiddellik uitgespring omdat ek bang was die vloeistof slaan aan die brand. Ek het in die suur getrap en dit het regdeur my broek en my skoene gebrand.”

’n Vrou wat erge brandwonde opgedoen het nadat ’n vragmotor sy vrag swaelsuur in Mei 2015 in Modimolle verloor het, kry ’n groot uitbetaling van die padongelukke fonds.

Die Pretoriase hooggeregshof het gelas dat die padongelukkefonds R2,5 miljoen aan die 48-jarige vrou, wie se identiteit weerhou word, moet betaal omdat haar beserings haar verhoed om haar werk te doen, het Jean-Paul Rudd van die regsfirma Adams en Adams aan Die Pos bevestig.

 

Duisende liter swaelsuur het op Saterdagoggend 16 Mei 2015 in Thabo Mbekiweg afgeloop nadat ’n vragmotor omgeslaan het. Drie mense wat in die parkeerterrein en op die sypaadjie voor Mr. Munchies was, is beseer toe van die suur op hulle gespat het. Foto: Herman Steyn

 

Luidens hofstukke het die vrou erge brandwonde op haar nek, bene, boude, voete en regtervoorarm en –hand opgedoen. Sy is ses weke lank in die brandeenheid van ’n Pretoriase hospitaal behandel, waarna sy nog twee maande behandeling tuis ontvang het.

In sy uitspraak op Vrydag 25 Oktober het regter AJ Swanepoel beslis dat die vrou se beserings haar verhoed om haar werk te doen. Sy het erge letsels opgedoen, loop moeilik en het heeltyd pyn in haar bene. Sy kan nie ’n pen vashou of ver afstande ry nie. Sy het spierskade opgedoen en lei aan posttraumatiese stressindroom.

Die ongeluk het ’n verwoestende invloed op haar lewe gehad, het hy gesê. ’n Deel van die bedrag wat sy ontvang is skadevergoeding, maar mediese koste en verlies aan toekomstige inkomste is ook bereken.

’n Trustfonds sal gestig word om die uitbetaling te beskerm nadat die vrou getuig het dat sy emosioneel weerloos is.

Die Pos het tydens die voorval berig dat twee mense wat in hul voertuie voor Mr Munchies in Thabo Mbekiweg gesit het, asook ’n vrou wat klere reg voor die winkel verkoop het, deur die swaelsuur gebrand is toe die vragmotor omgeslaan het. Die suur het oor die bakwerk van die voertuie gespat.

George Lebese is in die St Vincent-hospitaal opgeneem en vir brandwonde op sy been en hand behandel. Hy het ná die voorval aan Die Pos gesê die skade aan sy voertuig het sowat R100 000 beloop.

“Ek was in my voertuig en het onmiddellik uitgespring omdat ek bang was die vloeistof slaan aan die brand. Ek het in die suur getrap en dit het regdeur my broek en my skoene gebrand.”

Die beseerde vrou aan wie die uitbetaling gemaak is, is onmiddellik na ’n Pretoriase hospitaal geneem.

Petro van Aardt, wat klere voor Mr Munchies verkoop het, is ook vol suur gespat. Sy het ook verskeie brandwonde opgedoen.

Daar het vermoedelik 20 000 liter swaelsuur uitgestort, minder as 100 m van die dorpsdam se uitloop in die Klein Nylrivier. ’n Groot hoeveelheid kalk is in die rivier gegooi om die suur se werking te beperk. Swaelsuur is uiters giftig vir enige vorm van lewe.

Die vragmotor was op pad van Rustenburg na Zimbabwe. Die Zimbabwiese eienaar van die vragmotor het destyds saam met opruimingspanne gewerk en betaal vir die kalk wat gebruik is, asook vir twee dae se werk deur Drizit, kenners in die hantering van omgewingsbesoedeling.

Related Articles

Back to top button