Bosveldreën bring welkome verligting in droë tyd
Die droogte in die Waterberg-omgewing is steeds merkbaar, hoewel daar die afgelope naweek welkome reënbuie op talle plekke in Die Pos se lesersgebied geval het.
Kenners meen egter dat baie meer genadewater nodig is om die droogte te breek en die buitengewone hoë temperature se felheid te versag.
Volgens inligting van die Waterberg Distrik Landbou-unie (WDLU) het daar die afgelope week tussen 10-18 mm in die Bela-Bela-omgewing uitgesak.
Daar is ’n skamele 2 mm in Modimolle en ook in die Loubad-omgewing gemeet. Geen reënval is tot dusver vir die Lehau-omgewing aangeteken nie.
Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het by navraag gesê die dorp ervaar nie tans krisistekorte nie, maar hy het gemaan dat dit kan verander indien daar nie ’n baie goeie reënseisoen voorlê nie.
Die munisipaliteit verskaf tans 55% van die dorp se water en Magalies Water die ander 45%.
“Ons damvlakke bly binne die verwagte perke ten spyte van die min reën. Die rede daarvoor is dat die munisipaliteit die watertoevoer na die dorp tussen 22:00 en 05:00 afskakel sodat genoeg water vir die volgende dag beskikbaar is,” het hy gesê.
“Daar word tans geen boetes gehef vir die gebruik van tuinslange en sproeiers nie. Die damvlakke word gemoniteer en bestuur.”
Hy het voorts gesê die munisipaliteit is dankbaar dat inwoners waterpype wat lek dadelik aanmeld.
“Ons het ook ’n proaktiewe maatreël ingestel deur ’n span na alle wonings in die munisipale gebied te stuur om te bepaal of watermeters nog funksioneel is.”