Local newsNews

Plant ’n spekboom en hou die lug skoon

Wat is beter as om te gee?

Wat is nog beter as om ’n spekboom te gee wat nie net as een van die wêreld se aktiefste plante wat koolstofdioksied verwyder gereken word nie, maar ook droogtebestand is?

Die Dameskring in Vaalwater het onlangs verskeie van dié vetplante aan inwoners van die dorp uitgedeel.

“Ons het die idee gekry nadat ons die afgelope tyd heelwat artikels oor die goeie eienskappe van die spekboom gelees en ’n radiopraatjie daaroor gehoor het. Een van ons lede, Wilma van der Merwe, het ingespring en ’n groot hoeveelheid van die boompies geplant sodat ons dit later kon uitdeel,” het Dalene Vermaak, voorsitter van die organisasie, gesê.

Die nederige spekboom (Portulacaria afra) is deesdae in die kollig nadat navorsers gesê het ’n enkele spekboombos per hektaar is tien keer meer effektief om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder as die Amasone-woud in Suid-Amerika. Dit maak dit glo doeltreffend om aardverwarming teë te werk. Volgens The Spekboom Foundation verwyder ’n hektaar spekbome 4,2 ton koolstofdioksied per jaar.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale biodiversiteit-instituut (Sanbi) sê die spekboom is só doeltreffend omdat dit op twee maniere fotosinteer. Die kan fotosinteer soos ander plante, maar kan ook wanneer dit uitsonderlik droog is aanhou fotosinteer wanneer ander plante dormant raak deur hoë hoeveelhede koolstofdioksied op te slurp.

Volgens Vermaak beoog hulle om binnekort weer van die plante uit te deel sodat soveel tuine moontlik in die dorp met dié spesie kan spog.

Vroue wat belangstel om by die Dameskring in Vaalwater aan te sluit, kan Vermaak bel by tel. 083 287 4144.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button