Local newsNews

Die tyd om te help is nóú

’n Groep boere, sakelui en ander belanghebbendes het op Woensdag 9 Oktober ’n vergadering gehou oor die toestand van die provinsiale paaie in die Mookgophong-omgewing.

Die vergadering is deur Francois Fouché van Hanfra-boerdery gereël.

Die doel van die vergadering was om rolspelers aan te moedig om deel te neem aan projekte om die infrastruktuur van paaie te verbeter.

“Die tyd het aangebreek dat motorryers hande uit die sakke haal en help om die paaie van ondergang te red,” het Philip van Staden, AfriForum-voorsitter wat ook die vergadering bygewoon het, gesê.

Daar is tydens die vergadering besluit dat sakelui en boere moet help met die aankoop van teer om slaggate te herstel.

Die vergadering het gehoor die plaaslike paaiedepartement het reeds talle groot en gevaarlike gate herstel. Ongelukkig het die teer opgeraak voordat al die gate herstel kon word en dit sou etlike maande neem om teer volgens die normale prosedure te bekom. Die gevolg is dat nuwe gate in die reënseisoen sou vorm en ingryping van die gemeenskap was die enigste oplossing.

Voorts is gesê daar is goeie samewerking op die dorp tussen die plaaslike owerheid, wat die paaie se instandhouding behartig, en die AfriForum-tak in Mookgophong.

Die pad tussen die dorp en Die Oog-aftreeoord se slaggate is nou vir die tweede agtereenvolgende jaar herstel. AfriForum het die teer geskenk en die departement se span het die werk saam met AfriForum-lede gedoen.

Daar woon talle pensioentrekkers in dié oord en mense met kinders gebruik ook daagliks dié pad na en van die skole in die dorp.

“Ons was bekommerd omdat die slaggate in die pad ’n groot gevaar vir padgebruikers inhou. Die gras en doringbome langs die pad was ook gevaarlik omdat wilde diere voor aankomende motors kon inhardloop en ongelukke tot gevolg kon hê,” het Van Staden gesê.

Die plaaslike tak van die paaiedepartement is genader om die gras en boompies te sny, waarna hulle dit onmiddelik gedoen het, het Van Staden gesê.

Spif Beleggings het 40 sakkies teer geskenk en die kleiner gate vanaf Hoërskool Hans Strijdom na die olifant-standbeeld is herstel. Hanfra-boerdery het ook ingewillig om 40 sakkies teer te koop sodat die hele stuk pad tot by die T- aansluiting na Rondalia herstel kon word.

“Die vergadering doen ’n beroep op die talle padgebruikers om asseblief te help met die koop van teer sodat paaie in die omgewing herstel kan word. Die pad vanaf die olifant na Marken het ’n klomp gevaarlike gate en so ook die deel vanaf die olifant na die aansluiting op die R101 by Haakdoring. “Ons is in die hande van ons gemeenskap wat kan bydra en voorkom dat die paaie heeltemal ten gronde gaan,” het Van Staden gesê.

Indien inwoners betrokke wil raak by hierdie projek, kan hulle vir Francois Fouché by Hanfra-boerdery bel tel. 082 575 2804 of Kevin Travis van Spif Beleggings by tel. 083 380 0164.
Philip van Staden van AfriForum se tak in Mookgophong is beskikbaar by tel. 081 330 2606.

Related Articles

Back to top button