Local newsNews

Seun (11) en sy “skoolkantoortannie” bring die Suid-Afrikaanse medalje Alma toe

’n Jong atleet van Laerskool Alma het die wind onder sy voete.

Victor Chauke, ’n gr. 5-leerder, het letterlik stof in die oë van sy teenstanders geskop tydens die Suid-Afrikaanse veldwedloopkampioenskap wat onlangs in Witrivier plaasgevind het. Victor, wat in die o.11-ouderdomsgroep deelgeneem het, is trots op sy eerste plek.

Hy het egter meer uitdagings as die ander atlete gehad om bo uit te kom. Sy gesin, wat in Alma woon, is nie welgesteld nie en hy het kaalvoet gehardloop. Hy het die afgelope twee jaar die aandag by skoolbyeenkomste getrek met sy uitsonderlike prestasies ondanks die feit dat hy geen professionele afrigting ontvang nie.

Victor Chauke, veldwedloopkampioen saam met sy afrigter, Jacomina Rautenbach, wat 26 jaar die skool se “kantoortannie” was, en die skoolhoof van Laerskool Alma, MJ Mothemani.

 

Laerskool Alma is ’n klein plattelandse skool met 420 leerders.

Jacomina Rautenbach, wat tot onlangs die skool se “kantoortannie” was, het besluit om in te spring en te help om hom af te rig. Die twee was vasbeslote en het afstande in en om die skoolterrein afgemeet en dan het Victor geoefen terwyl sy tyd geneem word. Voor groot byeenkomste samel die skool se onderwysers geld in om die nodige klere te koop en sakgeld vir hom saam te gee.

Hardloopskoene was hom nog nie beskore nie.

Rautenbach het Victor ook vergesel na die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Germiston waar hulle kon wys watter uitstekende oefenbaan Limpopo se stofpaaie is.

Rautenbach het in September ná 26 jaar diens by die skool afgetree.

“Dit het onder ons aandag gekom dat dié jong atleet groot hoogtes bereik het, al het hy nie ’n professionele afrigter of spesialisafrigting nie. Victor het gewys dat hy ’n toegewyde atleet is en die potensiaal het om, met die nodige ondersteuning, ’n wêreldklasatleet te word,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, in ’n verklaring gesê.

Sy het onderneem om hom te ontmoet en ’n paar hardloopskoene te borg. Sy sê hulle is hard op soek na ’n professionele afrigter wat Victor kan afrig.

“Ons glo dié jongeling stel ’n baie goeie voorbeeld vir ander kinders deur te wys dat enige iets moontlik is, ten spyte van ’n mens se persoonlike omstandighede,” het sy gesê. “Ons is baie trots op hom.”

Hy sukkel nie om te hardloop nie; dit kom maklik vir hom, sê Victor.

“Dit maak my kop skoon as ek hardloop. Ek het in 2017 begin hardloop en agtergekom dat ek dit geniet,” het die jong atleet gesê.

Inwoners wat hulp wil verleen, kan een van die onderwysers, Christie Steyn, by tel. 083 299 8172 bel of ’n e-pos stuur na cvermaaks@gmail.com of die skoolhoof, MJ Mothemani, bel by tel. 082 265 7214. Die sein in Alma is swak en lesers word aanbeveel om ’n Whatsapp-boodskap te stuur.

Related Articles

Back to top button