Local newsNews

Maak hart oop en skenk ’n boks vir ’n boervrou

’n Liefdadigheidsveldtog wat boervroue in droogtegeteisterde gebiede ondersteun word tans landwyd geloods.

Dele van die land, veral dié in die Noord-Kaap, gaan reeds die afgelope sewe jaar onder knellende droogte gebuk.

Boere in dié omgewing sukkel om geldelik kop bo water te hou en luukshede is lankal iets van die verlede.

Die veldtog staan bekend as Boks vir ’n Boervrou-projek en het in Wellington ontstaan.

Mense wat tot die saak wil bydra, kan enigiets van kos (niebederfbaar), wasmiddels, grimering, lekkernye of klere in skoenbokse of sesbottelwynbokse plaas en in koerant of bruinpapier verpak.

Weldoeners in Bela-Bela kan die skenkings na die Hyundai-kantore in Chris Hani-straat bring, vanwaar dit na die Kaap vervoer en versprei sal word. In Modimolle kan die bokse by Die Pos se kantoor afgegee word.

In aanloop tot die feesseisoen sal sulke skenkings nie net die nood verlig nie, maar ook hoop bring.

Die veldtog is veronderstel om einde Oktober ten einde te loop, maar die moontlikheid bestaan dat die tydperk om skenkings te maak verleng kan word.

Vir navrae oor die projek in Bela-Bela kan mense vir Mathilda van Straaten bel by tel. 082 882 3353 en in Modimolle vir Bes Bogaards by tel. 082 456 9364.

Skenkings kan ook afgegee word by Elize Coetzer van Foto Uniek en Waterberg Kunssentrum in Presidentstraat 29 in Modimolle of bel vir Coetzer by tel. 072 992 4183.

Related Articles

Back to top button