Local newsNews

Pragboek vertel die geskiedenis van die Waterberg

Die volledige geskiedenis van die Waterberg is saamgevat in een, omvattende boek.

Dié knuppeldik bundel sal die trots van elke Bosveldse koffietafel wees.

Richard Wadley, ’n afgetrede geoloog wat in Vaalwater woon, het ná baie jare se harde werk uiteindelik sy boek, Waterberg Echoes op Vrydag 4 Oktober in die dorp bekend gestel. Dié boek is die uiteinde van tien jaar se navorsing uit bronne wat reeds oor die Waterberg geskryf is, snuffelwerk deur argiewe, asook tientalle onderhoude met inwoners van die omgewing — sommige nou reeds oorlede. Wadley se vrou, Lyn, ’n argeoloog, het ook ’n hoofstuk in die boek geskryf.

Wadley het tydens die bekendstelling op die groen gras onder die bome van die Zeederberg-sentrum, in ligte luim vertel dat hy met sy aankoms in die Waterberg soveel vrae gehad het wat niemand kon antwoord nie. “Hoekom is daar ’n treinspoor met ’n ou, geroeste waarskuwingsbordjie waar ek telkemale deur verkeerspolisie afgetrek word, maar ek het nog nooit ’n trein daar gesien nie?” het hy laggend gevra.

Grafte wat op plase in die omgewing was, het ook sy nuuskierigheid oor die inwoners van vroeër geprikkel.

Hy het in diepte navorsing gedoen oor die geskiedenis van die New Belgium-gebied.

Die boek vertel die storie van die merkwaardige mense wat op die plato en in die omgewing gewoon het en die uitdagings wat oorlog, siekte, droogte en verwaarlosing deur die regering meegebring het.

Dit beskryf ook die argeologiese rekord, die konflikte gedurende die difaqane (’n tyd van wydverspreide konflik tussen inheemse stamme) en die Suid-Afrikaanse oorlog, die sage van die Herero-migrasie uit die Duitse Suid-Wes Afrika in 1906 en die 1914-rebellie. Wadley kyk ook na die ontwikkeling van die verskillende dorpe, spoorlyne en mynbedrywighede. Die verspreiding van gelowe en onderrig in die gebied word bespreek, tesame met die belangrike rol wat politiek, geologie en die verandering in grondgebruik meegebring het.

Wadley het vir Louis Nel, wat nou in Modimolle woon, uitgesonder as ’n besondere bron van inligtng oor die gebied.

“Ek het tydens my navorsing soveel wonderlike mense en storievertellers ontmoet,” het hy gesê.

Die boek sal binnekort by boekhandelaars in die omgewing beskikbaar wees. Daar is ook kopieë aan die plaaslike biblioteke geskenk.

Related Articles

Back to top button