Local newsNews

Magrietjies hou Blomme van Lofprysing

Die Magrietjies-hulpgroep van Mookgophong het op 4 en 5 Oktober ’n uitstalling van kunswerke met blommerangskikkings aangebied.

Die geleentheid was ten bate van die kankerhulpverleningsgroep.

Martie du Plessis, voorsitter van die Magrietjies, het aan Die Pos gesê sy het dié idee in Ficksburg in die Vrystaat gekry en daar en dan besluit om inwoners van Mookgophong ook die geleentheid te bied om hul talente ten toon te stel en van dankbaarheid te getuig.

“Ek en ’n vriendin, Ina Viljoen, en al die Magrietjies het saamgewerk om van die uitstalling ’n sukses te maak,” het sy gesê.

Inwoners is genader om deel te neem en op die ou einde het 54 mans en vroue hul “Blomme van Lofprysing” uitgestal.

Elke uitstaller moes ’n Bybelvers gebruik wat vir hulle baie beteken en dan blomme of plante of ’n kombinasie daarvan gebruik om die teksvers uit te beeld. Daar was geen beperking nie en van die deelnemers het ook brode, grasse, sand en klippe gebruik om die boodskap oor te dra.

Elke uitstaller het R30 betaal wat ook hul toegang ingesluit het. Heerlike kerrie-en-rys was te koop en volgens Du Plessis het tussen 300 en 400 mense die uitstalling besoek.

“Hierdie was ’n belewenis en absolute kos vir die siel,” het Hanlie Lancaster, een van die uitstallers, gesê.

“Sommige mense was oorweldig en is só deur die pragtige kunswerke geraak dat hulle bewoë geraak het,” het Du Plessis gesê.

Related Articles

Back to top button