Local newsNews

Oud-Nylie is Mev. Pretoria-Tshwane

’n Oud-Nylie het trots weggestap met die kroon as die nuwe Mev. Pretoria-Tshwane.

Dié eer het Megan Horak-Du Preez (op skool bekend as Germari Horak) op Saterdag 28 September te beurt geval. Sy woon tans in Pretoria.

Horak-Du Preez se wortels lê diep in Modimolle. Sy was in Klein Treetjies-kleuterskool, Laerskool Eenheid en Hoërskool Nylstroom. Haar ma, Margi, was ’n onderwyser by Laerskool Eenheid en haar pa, Gerrie Horak, en broer, Zander Horak, woon steeds in die dorp.

Horak-Du Preez is in Augustus as finalis benoem. Finaliste word beoordeel op take wat hulle moet verrig soos om geld in te samel vir die welwillendheidsorganisasie Rolemodels Foundation.

Verdere punte word toegeken aan die finaliste waar hul op die verhoog moet loop, vrae voor ’n gehoor moet beantwoord en die gehoor meer omtrent hulself moet vertel. Sy het ook tydens die kompetisie weggestap met die titels vir Mev. Styl, Mev. Persoonlikheid, Mev. Debutant en as die finalis met die meeste stemme van die publiek. Sy het ’n trofee en toekenning, die Director’s Award, wat nie elke jaar toegeken word nie, ontvang omdat sy in slegs agt weke R500 000 se borgskappe vir die Rolemodels Foundation ingesamel het.

“Daar lê ’n harde, opwindende jaar voor. Ek moet minstens een of twee byeenkomste per week bywoon as Mev. Pretoria-Tshwane 2020 en met belangrike mense vergader soos die burgemeester van Pretoria, lede van die parlement, radiostasies, media en ander rolspelers,” het sy gesê.

Sy pak dié uitdaging egter gemaklik aan, want as eienaar van haar eie sakeonderneming, Play It 4WARD-gholfspesialiste, asook danksy haar noue betrokkenheid by verskeie ander ondernemings, is sy gewoond aan uitdagings.

Sy het aan Die Pos vertel sy het haar 20 jaar- skoolreünie terdeë geniet. Die reünie is tydens die Nyliefees gehou waar sy ook betrokke was.

Sy is getroud met Heinrich du Preez, ’n wêreldrekordhouer in gholf.

“Een van my pligte is om ’n verskil te maak in die lewens van mense in my gemeenskap en Rolemodels Foundation se naam hoog te hou. Ek moet hulle ook help om hul nuwe projek, Camp Champs, te ontwikkel. Die organisasie het ’n borg van 18 ha grond gekry wat ontwikkel sal word sodat daar leierskapskampe gehou kan word. Kinders uit kinderhuise kan gedurende skoolvakansies die kampe bywoon en as wegbreekgeleenthede ervaar.

Related Articles

Back to top button