Local newsNews

Dink vir jouself, is gewese apteker se raad

In ’n wêreld waar menings baie keer as die waarheid op mense afgedwing word, behoort mense liefs vir hulself te dink.

Dít is die raad van George Immelman (88) van Modimolle by wie Die Pos gaan kuier het vir ons maandelikse brugbouer-rubriek. Só gesels dié wyse man met die wye algemene kennis:

Watter beroep het jy beoefen?
Ek het vir 50 jaar ’n wit aptekersjas gedra. Ek was ook ’n eiendomsagent en stoetbeesboer in Alberton.

Waar is jy gebore en getoë en hoe lank woon jy al in die dorp?
Ek is in Germiston gebore en het in Primrose grootgeword. Ek en my vrou, Maryna, woon reeds ses jaar in die Bosveldsig-veiligheids-
oord in Modimolle.

Wat is die grootste verandering wat jy beleef het?
Die tyd toe ek in een jaar vir 365 dae lank van 09:00 tot 23:00 vir apteke in Johannesburg gewerk het om genoeg geld te spaar om te studeer. Ek het elke oggend eers om 02:00 in die bed gekom en moes vroeg opstaan om 08:00 weer by die werk te wees. Die ander groot verandering was toe ek my eie huis op ons plaas, Eikenhoff, gebou het. Dit het my en twee werkers ’n jaar geneem om dit te voltooi.

Wat dink jy van vandag se jongmense?
Ek dink die kinders leef vandag anders en die tegnologie wat hulle gebruik, gee hulle beter geleenthede in die lewe. Ek respekteer hulle.

Wat is die een les wat die lewe jou geleer het?
Cogito ergo sum — Ek dink, daarom is ek. Ek moet vir myself dink, want as ek ander se dogma aanvaar, kan ek ’n slaaf daarvan word.

Wat lees jy graag?
Feitelike goed, want ek hou daarvan om geskiedenis te leer, die sielkunde van die mens te verstaan en in voeling met nuwe uitvindings te wees. Verder skilder ek landskappe en bied ook klasse aan. Van my werke is al in China, Denemarke, Holland, Frankryk, Duitsland, Engeland, Amerika en Suid-Afrika verkoop.

Wat was die mees onvergeetlike reis wat jy onderneem het?
Toe ek en my vrou in die jare tagtig na China en Taiwan gereis het. Ons was so bang dat ons taxibestuurder ons in ’n onveilige gebied sou aflaai en was verlig toe ons die lughawe bereik het. Toe ons by die lughawe in Taipei aangekom het, moes ons eers wag, want die vliegtuig se voorwiel was los. Die Chinese het die grootste respek vir ander. Hulle is hardwerkend en vermaan jou selfs as jy ’n uitgebrande vuurhoutjie op die grond wil gooi.

Wat sal jy voorsit as jy jou hartsmense nooi vir ete?
Tuisgemaakte boerekos met gebakte brood en niks kunsmatig nie (met my vrou in beheer van alles).

Wie is jou kinders en kleinkinders?
Willem Hendrik is in Stellenbosch en werk in die wêreld van inligtingstegnologie. Petrus Johannes is ’n invoer- en uitvoerhandelaar en Sarie Jordaan van Potchefstroom is ’n onderwyser, lugwaardin en skoonheidsdeskundige. Ons het sewe kleinkinders.

Related Articles

Back to top button