Local newsNews

Openbare mening gevra in aansoek om prospektering

Die onderneming het drie weke gelede ’n kennisgewing geplaas waarin planne bekend gemaak is om in die omgewing vir minerale te prospekteer.

’n Openbare deelnameproses word gevra nadat die onderneming Jurry Mining and Resources, ’n mynonderneming van Emalahleni (Witbank), aangedui het hy wil tussen Bela-Bela en Modimolle prospekteer.

Die onderneming het drie weke gelede ’n kennisgewing geplaas waarin planne bekend gemaak is om in die omgewing vir minerale te prospekteer.

Die stuk grond wat die onderneming in gedagte het, is Verloren 452 KR. Dit is die perseel waar TNT Trading voorheen sake gedoen het. Volgens die kennisgewing hoop die mynonderneming om op dié stuk grond vir mangaan, platinum en nikkel te prospekteer. Indien die inwoners van die omgewing die nodige toestemming verleen, beoog die mynmaatskappy om die projek binne die volgende drie tot vyf jaar te bestuur.

Die stuk grond het aan Cecil en Pattie Peterson behoort. Dié bejaarde egpaar is in September 2017 koelbloedig by hul huis aangeval, beroof en vermoor.

Pattie is op die toneel dood nadat sy in die maag geskiet is. Cecil, wat in die gesig geskiet is, is ’n paar weke later in ’n Pretoriase hospitaal oorlede.

Piet Boitumelo Mathebula (32), Mpho Nico Nkonyana (22), Tshepo Tebula (37) en Thato George Maringa (31), is in April vanjaar lewenslange vonnisse vir die misdade opgelê.

Die prospekteringsaansoek het vier maande ná die vonnis aan die lig gekom.

Inwoners wat deur die aansoek geraak word, is aangeraai om kommentaar aan die mynonderneming te rig.

Syd Catton, ’n inwoner van die Verloren-landgoed digby die beoogde gebied, het inligting van die Environmental Protection Agency (EPA) aan Die Pos uitgereik rakende grondeienaars se regte oor prospekteringsaansoeke.

Volgens dié inligting kan slegs grondeienaars besluit wie hulle op hul grond wil toelaat en mynondernemings moet die nodige toestemming en magtigingsdokumente bekom om toegang tot grond te verkry.

Hy het gesê die feit dat ’n openbare deelnameproses gaan plaasvind, moenie gesien word as goedkeuring tot prospektering nie, maar eerder as ’n beoogde inligtingsvergadering.

EPA raai inwoners aan om van mynverteenwoordigers te eis wat hul doel van besoeke is en om dokumentasie te vra voordat toestemming verleen word. Die wettigheid van aansoeke om prospektering moet deeglik nagevors word.

Die Pos het die mynonderneming om kommentaar genader. Volgens ’n woordvoerder sal hulle eers kommentaar lewer nadat die beoogde vergadering aanstaande maand plaasgevind het.

Related Articles

Back to top button