Local newsNews

Munisipaliteit sê diensverskaffer het fouteer

Die Bela-Bela-munisipaliteit was sy hande in onskuld ná ’n omstrede kragkooptransaksie wat die dorp se inwoners aan die gons het.

Die Pos het breedvoerig berig oor ’n inwoner van die Bela-Bela-township wat in Augustus slegs R20 betaal het en daarvoor ’n allemintige 110 krageenhede, asook 50 gratis krageenhede, ontvang het.

Die inwoner het die strokie aan Tinus Ras, DA-raadslid, gewys, waarna dit ook onder die Bela-Bela-belastingbetalersforum se aandag gekom het. Die goedgekeurde tarief is tans R1,68 per krageenheid. Hulpbehoewendes wat kwalifiseer vir afslag ontvang 50 gratis eenhede per maand en moet daarna vir die res betaal.

Dié verdagte transaksie het daartoe gelei dat inwoners begin vrees het dat daar nóg sulke voorvalle is waar mense se rekeninge wederregtelik aangepas is en dat die munisipaliteit daardeur inkomste verloor.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê ’n dringende ondersoek is geloods en daar is vasgestel dat die fout glo by die diensverskaffer, wat voorafbetaalde kragaankope namens die munisipaliteit hanteer, lê.

Volgens hom het daar ’n fout op die diensverskaffer se stelsel ontstaan wat slegs op hulpbehoewendes se rekeninge gewys het.

Die stelsel het glo volgens hom in hierdie spesifieke geval 110 ekstra krageenhede op die koopstrokie getoon, maar die koper het nié die ekstra krageenhede ontvang nie.

Mosito het gesê dit wys ook op die munisipaliteit se stelsel dat dié koper slegs die aangekoopte 10,3 krageenhede en die 50 gratis krageenhede ontvang het.

Volgens Mosito is vasgestel dat dié persoon wel as ’n hulpbehoewende geregistreer is en daarom geregtig is op die 50 gratis eenhede.

“Die diensverskaffer is besig om hul sagtewareprobleem reg te stel om soortgelyke probleme te voorkom. Daar was geen onwettige optrede nie en die munisipaliteit het in dié geval geen inkomste verloor nie,” het Mosito gesê.

Hoewel die diensverskaffer aangedui het dat die fout “kliënte” wat as hulpbehoewendes geregistreer is geraak het, kon Mosito nie ’n aanduiding gee of daar meer mense in Bela-Bela was wat dieselfde probleem met kragaankope ondervind het nie.

Related Articles

Back to top button