Local newsNews

Slange ontwaak uit hul winterslaap

“Mense moet die belangrikheid van slange verstaan. Dit is onwettig om bedreigde spesies dood te maak en daarom is dit belangrik om slange te kan identifiseer.”

Met die warmer temperature in die Bosveld kan inwoners verwag om nou meer slange aan te tref.

“Mense moet die belangrikheid van slange verstaan. Dit is onwettig om bedreigde spesies dood te maak en daarom is dit belangrik om slange te kan identifiseer. Mense moet ook besef dat slange nie sal aanval tensy hulle bedreig voel nie.”

Só het Ruan Venter, slangvanger van Bela-Bela, aan Die Pos gesê. Volgens hom bel talle inwoners om te vra dat hy slange moet verwyder, maar in baie gevalle maak die inwoners dan reeds self die slang van kant.

Luislange, pofadders en wipneus- en spoegkobras is veral nou aktief, sê hy. Luislange se byt is nie giftig nie, maar hulle verstrengel hul prooi. Pofadders en kobras is giftig. Kobras kan hul gif oor ’n afstand van 2 tot 3 maal hul liggaamslengte na ’n dier of mens wat hulle bedreig, spoeg, het Venter gesê.

Die meeste ander slangspesies verskyn eers ná die eerste lentereën.

Venter het daarop gewys dat slange algemeen voorkom waar daar paddas en muise of rotte is. Dit is ’n maklike voedselbron. Hy raai inwoners aan om hul erwe netjies te hou en hope vullis en rommel te verwyder.

“Moenie slange in die huis summier doodmaak nie. Dit is makliker vir ’n slangvanger om die slang binnenshuis as buite in ’n oop veld te vang.”

Hy raai mense aan om kalm te bly, aangesien slange mense se opgewondenheid, vrees en vinnige bewegings kan aanvoel. Slange neem outomaties ’n aanvalsposisie in sodra hulle bedreig voel.

“Beweeg rustig weg, kry die kinders en troeteldiere uit die vertrek en hou net ’n oog op die slang se beweging,” het hy gesê.

Venter is 24 uur beskikbaar en kan bereik word by tel. 084 679 7774.

* Die African Snakebite Institute het ’n toep beskikbaar gestel wat mense op hul slimfone kan aflaai om slange in hul omgewing te identifiseer. Noodnommers, slangvangers en waardevolle inligting is op die toep beskikbaar en kan van die Playstore afgelaai word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button