Local newsNews

Wat het van die R158 miljoen geword vir die opgradering van dié pad?

Die teerpad tussen Settlers en Witlaagte hou ’n groot gevaar vir padgebruikers in nadat daar al langer as ’n jaar geen kontrakteur is om dié padprojek te voltooi nie.

Henry Batt, waarnemende skoolhoof van Lord Milner Primary School, het in ’n e-pos gesê sedert die kontrakteur weg is het die “nuwe pad” aan albei kante begin verbrokkel.

Die Pos het die pad op Donderdag 5 September besoek.

Die slote, wat plek-plek tot 2 m diep is en langs die skouer van die pad gegrawe is tydens die opgraderings, is net so gelaat. Daar bestaan ’n wesentlike gevaar dat motorryers met hul voertuie daarin kan beland. Die pad het ook geen sperstrepe nie wat dit uiters gevaarlik maak.

Hoewel die kontrakteur ’n tydelike grondpad langs die sogenaamde nuwe pad gemaak het om verkeer na die twee skole in die omgewing, Lord Milner Primary School en Settlers Agricultural High School te bedien, is die grondpad op verskeie plekke baie ongelyk.

Batt het ’n pleidooi aan die provinsiale regering gerig om in te gryp. Hy het voorts gesê leerders reis daagliks op dié pad.

Maropeng Manyathela, hoof van kommunikasie by die Limpopo-padagentskap (RAL), het in reaksie gesê ’n tender is destyds uitgereik om dié pad, ongeveer 23 km vanaf Settlers tot in Witlaagte, op te gradeer.

Die tender is aan Mivami Construction CC van Johannesburg toegestaan en die ingenieursfirma Ubona Engineers van Polokwane is aangestel om die projek te help bestuur.

Die totale kontrak het R158 miljoen beloop en is deur RAL befonds, het Manyathela gesê. Nadat bouwerk in Julie 2016 begin is en daar etlike maande aan die pad gewerk is, het die werk skielik gestop en daar is nou al vir langer as ’n jaar geen werkers in sig nie. Die bou-werk was veronderstel om in Junie 2018 voltooi te gewees het, het Manyathela gesê.

Hy het die probleme vir die oponthoud toegeskryf aan bewerings dat die kontrakteur glo “kontantvloeiprobleme” ervaar het.

“Daar is ’n kontraktuele dispuut tussen ons en die kontrakteur. RAL is tans besig om die probleme met die kontrakteur uit te klaar sodat hulle met die werk kan voortgaan en die projek kan afhandel,” het hy gesê. “RAL sal die betrokke partye in kennis stel sodra daar vordering gemaak is.”

Manyathela kon geen aanduiding gee of die pad nog vanjaar voltooi sal word nie.

  • Nie een van die telefoonnommers van Mivami Construction CC wat aan Die Pos verskaf is, is die afgelope week beantwoord nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button