Local newsNews

Hupstoot vir huwelike

Huweliksweek word elke jaar van 1-7 September gehou om egpare ’n hupstoot te gee om hul verhoudinge te versterk.

Volgens syfers wat in Mei 2018 deur Statistiek Suid-Afrika bekend gemaak is, haal vier uit elke tien getroude paartjies nie die tien jaar merk nie.

Net soos die vorige jaar se syfers, was die gemiddelde ouderdom waarop mense geskei het dieselfde. Die mans was gemiddeld 44 jaar oud en die vroue 40 jaar oud. Die meeste van die huwelike het tussen vyf en nege jaar geduur.

In sowat 55,6% van skeisake is daar kinders jonger as 18 jaar betrokke.

Volgens ’n verklaring van SA Huweliksweek is die impak hiervan verreikend. Navorsing toon dat kinders uit geskeide gesinne meer geneig is tot ’n agterstand op akademiese, gedrags- en psigologiese vlak.

“Nie een van ons is gevrywaar dat ’n jarelange huwelik nie kan verbrokkel nie. Ons moet elke dag aandag aan mekaar gee en vir mekaar sê hoe lief ons vir mekaar is. In ons beroep as maatskaplike werkers, besef ons hoe belangrik dit is om ’n goeie huweliksverhouding te hê veral om emosioneel gebalanseerde kinders groot te maak.  Dit is vir ’n egpaar makliker om kinders groot te maak as ’n enkelouer. Ek haal my hoed af vir enkelouers, want dit is ’n moeilike pad,” het Henriëtte Els, maatskaplike werker van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Modimolle gesê.

Dit is nie net in Suid-Afrika waar die syfers so ontstellend lyk nie. Sowat 50% van alle huwelike in die VSA misluk, volgens SA Huweliksweek. “Altesaam 41% van eerste huwelike eindig in die skeihof, sowat 60% van tweede huwelike misluk en altesaam 73% van derde huwelike stap die tragiese paadjie,” lui die verklaring.

“Suid-Afrikaanse prokureurs en kenners het hul onderskeie menings, maar menige meen dat hoofsaaklike redes vir egskeiding die volgende insluit: finansiële konflik, die moderne samelewing se verbruikersmentaliteit, ’n lae pyndrempel (sodra die skoen begin druk, trek hulle hom uit), minder stigmas wat mense verplig laat voel om sake uit te werk, onrealistiese verwagtinge en rolverwarring.”

Liezel van der Merwe, stigter van SA Huweliksweek, meen dat getroude paartjies voorkomend moet optree. Sy moedig egpare aan om tydens dié week te besluit om hul huwelik voorop te stel. Vanjaar se tema is: “Maak sin van my, jou en ons lewe saam.”

Van der Merwe verduidelik dat hulle egpare wil aanmoedig om mekaar beter te verstaan en doeltreffende kommunikasie te bevorder sodat daar minder konflik is. Hulle bied die Marriage Capsule LOFS-temperamenttoets aan paartjies gedurende Huweliksweek. Hiermee kan hulle mekaar se temperamente ontsyfer en vasstel hóé om hul onderskeie temperamente optimaal te laat saamwerk.”

Registreer gratis vir SA Huweliksweek op www.sahuweliksweek.co.za en www.samarriageweek.co.za(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button