Local newsNews

Stem ANC en kry begrafnisdekking

Mense wat by die ANC aansluit sal eersdaags eksklusiewe begrafnisdekking deur die party kan geniet.

Die party se Paul Mashatile het op Donderdag 22 Augustus in ’n mediaverklaring aangekondig dat ANC-lede eersdaags deur partyverteenwoordigers genader sal word met dié spesiale aanbod.

Die voordele sluit onder meer koopbewyse vir kruideniersware vir polishouers in. Die polishouers se familiebegrafnisse word ook gedek, asook die begrafnisse van sy of haar uitgebreide familie teen ’n bykomende fooi.

Lede betaal tans R20 per jaar ledegeld aan die ANC. Die verklaring maak geen melding van die bykomende koste ten opsigte van die begrafnispolisse nie.

Volgens Mashatile is die besluit om begrafnispolisse aan ANC-lede beskikbaar te stel, geneem in die lig van die nypende ekonomiese klimaat waaronder alle Suid-Afrikaners gebuk gaan. Luidens die verklaring kan ’n tradisionele begrafnis duisende rande beloop. Dié nuwe voordeel kan ook dien om nuwe lede vir die ANC te werf.

Die ANC het in vanjaar se nasionale verkiesing meer as 10 miljoen geregistreerde kiesers gehad.

Zachariah Moeletsi, speaker van die Bela-Bela-munisipaliteit en voorsitter van die ANC se substreek, het in reaksie aan Die Pos gesê hierdie skema hou voordele vir die kiesers én vir die party in.

“Daar is baie mense wat nie kan spaar nie, maar wel voorsiening wil maak vir begrafnispolisse,” het hy gesê. “Dit is nodig vir politieke partye om met nuwe idees vorendag te kom om die party en sy kiesers op te hef. Kiesers wil sien dat die party waarvoor hulle stem, ook vir hulle iets kan bied.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button