Local newsNews

Huis Tekna blaas 22 kersies dood

“’n Groot deel van ons sukses is te danke aan die gemeenskap wat Tekna al 22 jaar ondersteun.”

Vir die personeel en kinders van Huis Tekna in Bela-Bela is Lentedag jaarliks ’n besondere geleentheid omdat dié instansie op 1 September verjaar.

Vanjaar blaas Huis Tekna 22 verjaarsdagkersies dood.

Dié tehuis is ’n plek van veiligheid vir kinders wat uit hul ouerhuise geneem is weens verwaarlosing of mishandeling.

Volgens Tekna se projekbestuurder, Melenie Nel, is hulle ongelooflik dankbaar dat hul deure ná 22 jaar se lief en leed steeds oop is.

“’n Groot deel van ons sukses is te danke aan die gemeenskap wat Tekna al 22 jaar ondersteun. Op die oomblik gaan ons weer deur ’n moeilike tyd en benodig dringend voorafbetaalde krag, kos en kontant om rekeninge te betaal,” sê Nel.

Die tehuis kan 46 kinders huisves en tans ontvang 44 kinders liefdevolle versorging waaronder 14 babas, 12 kleuters en 19 skoolkinders.

Daar is 25 personeellede waarvan drie sedert die huis se opening in diens is. Die meeste werk ook al 10 jaar en langer by dié tehuis. Die personeel werk dag- en nagskofte sodat die kinders te alle tye goed versorg en veilig is. Personeel ontvang opleiding wat deur Tekna se maatskaplike werker, Ilse de Beer, aangebied word. Vier van die werkers doen tans hul geakkrediteerde opleiding as “Child and Youth Care Workers”.

Die maatskaplike werker doen ook groepwerk met kinders en lei die personeel op om ouderdomsgepaste stimulasieprogramme met die kinders te doen. Tekna se bestuur en opleiding is van so ’n hoë gehalte dat selfs die departement van maatskaplike ontwikkeling hulle nader om met opleiding by ander liefdadigheidsinstansies te help.

Tekna is afhanklik van skenkings en donasies aangesien die subsidie wat van die regering ontvang word, nie alle kostes dek nie. Om ’n kind te versorg en om die nodige maatskaplike dienste te verskaf, kos tussen R5 500 en R6 000 per maand. In die maande waar daar byvoorbeeld skoolklere gekoop moet word, beloop dit selfs meer.

Die uitgawes bly styg en weens die huidige ekonomiese toestand, daal die inkomste drasties. Sakeondernemings wat in die verlede groot skenkings gemaak het, moet nou ook hul sente omdraai en hulle ontvang ook meer aansoeke van ander liefdadigheidsorganisasies, sê Nel. Die tehuis word deur ’n bestuursliggaam, wat onder meer uit lede van die gemeenskap bestaan, bestuur.

Dié liggaam hou ’n wakende oog oor die bestuur en geldsake. Die bestuursliggaam bestaan uit André Terblanche (voorsitter), Carla Vosloo (ondervoorsitter), Mark Rainier (tesourier), Adele Roux (sekretaresse) en Eva Adams en Maria Sebolao.

Tekna se projekbestuurder is Melenie Nel. Ilse de Beer is die maatskaplike werker en Surene Viljoen die operasionale bestuurder.

Sakelui of individue wat graag skenkings wil maak of meer inligting oor Tekna verlang, kan die webwerf www.tekna.co.za besoek. Die bankrekeningbesonderhede verskyn op die webwerf. Mense kan ook vir Nel bel by tel. 082 563 7439 of Viljoen by tel. 079 323 4908.

Tekna het ook ’n Facebook-blad: Huis Tekna. Skenkers kan ook gebruik maak van die “Money Box”-metode vir kontantskenkings deur https://www.facebook.com/CandystickSA te besoek. Dié skakel kan ook oopgemaak word vanaf die webblad en Facebook-blad. Dit is ’n veilige en maklike opsie.

Related Articles

Back to top button