Local newsNews

Egpaar hartseer nadat ongeluk familie eis

“Nico het nog daarop aangedring dat ons mooi foto’s van ons almal saam neem, maar nou is selfs die foto’s verlore in die ongeluk.”

’n Egpaar van Modimolle se harte is in stukke nadat ’n broerskind en sy twee jong seuns ná hul kuier in Modimolle dood is in ’n verwoestende motorongeluk buite Marble Hall.

“Ek het nog nie die hart gehad om die twee seuns se beddens op te maak nie. Dit staan nog net so,” het ’n aangedane Linda Rossouw vertel.

Die 48-jarige Nico Rossouw (ook bekend as Pieter) en sy twee seuns, Jannie (13) en JP (10), is onherkenbaar verbrand nadat ’n Nissan Navara-bakkie op Sondagmiddag 18 Augustus in hul Datsun vasgery het by ’n kruising, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, bevestig. Die bakkie het in stalletjies langs die pad geploeg en die voertuig waarin die Rossouw-gesin was, het aan die brand geslaan.

Twee kinders wat langs die pad by die smouse was, onderskeidelik een en vier jaar oud, is ook beseer. Die bestuurder van die Navara-bakkie het glo van die toneel gevlug, maar is intussen aangekeer. Hy is glo nie ernstig beseer nie. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Nico is Corrie Rossouw se broerskind. “Ná my broer en sy vrou se afsterwe het Nico gesê hy gaan ons nou maar as sy ouers aanneem. Hulle was vir ons soos kinders in die huis.

“Hy het Sondagmiddag aangehou uitstel om te ry. Ons het so lekker gekuier en die heel naweek Monopoly saam met die seuns gespeel,” het ’n hartseer Corrie gesȇ. “Nico het nog daarop aangedring dat ons mooi foto’s van ons almal saam neem, maar nou is selfs die foto’s verlore in die ongeluk.”

Nico en sy vrou Hannelie is geskei en dit was die twee seuns se naweek saam met hom. Hy was vermoedelik op pad om die kinders weer by haar af te laai in Steelpoort.

Die kinders is op Vrydag 23 Augustus in Steelpoort begrawe. ’n Roudiens vir Nico, Jannie en JP word op Vrydag 30 Augustus in Thabazimbi gehou.

“Groot dank aan almal op die dorp wat gehelp het om ons ná die ongeluk in die hande te kry en ons bygestaan het,” het Corrie gesȇ.

Related Articles

Back to top button