Local newsNews

Dries Becker (77) oorlede

Die Bela-Bela-gemeenskap het die afgelope week met leedwese verneem van die afsterwe van Dries Becker (77) op Donderdag 22 Augustus in die Warmbad Rusoord waar hy aangesterk het.

Volgens sy skoondogter, Elsie Becker, het sy gesondheid versleg nadat hy drie maande gelede bloeding op die brein opgedoen het en vir twee maande in die Eugène Marais-
hospitaal in Pretoria behandel is.

Becker het op ’n plaas buite Bronkhorstspruit grootgeword.

Hy het skoolgegaan by Laerskool Hartbeesspruit en later sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Oos-Moot in Pretoria begin en aan Hoërskool Warmbad voltooi.

Hy het ná skool by die eertydse Volkskas Bank op die dorp begin werk. Hy het ’n belowende toekoms in die bankwese gehad, maar nadat sy pa se gesondheid agteruit gegaan het, het Becker sy pa, Andries, se boerdery op Roodekuil oorgeneem.

Haar skoonpa het op 19 begin boer en nooit amptelik afgetree nie, het Elsie gesê. Sy seun, André, het mettertyd die leisels op die plaas oorgeneem.

Becker het sy vrou, Annatjie, in die 1970’s ontmoet. Sy was ’n onderwyser by Laerskool Warmbad.

Die egpaar is in 1971 in Fouriesburg in die Vrystaat getroud waar Annatjie grootgeword en gematrikuleer het, het Elsie gesê. Vier kinders is uit hul huwelik gebore.

“My skoonpa was ’n baie hardwerkende boer wat ’n plaas van die grond af opgebou het. Hy het ’n voorliefde vir sy beeste gehad en het alles in sy vermoë gedoen om te verseker dat sy vrou en kinders goed versorg was,” het Elsie gesê. “Hy het die goeie beginsels van integriteit, buurmanskap, harde werk en nederigheid by sy kinders tuisgebring en verseker dat elkeen kan gaan studeer en ’n loopbaan bou.”

Becker se begrafnis het op Woensdag 28 Augustus vanuit die NG Warmbad Wes-gemeente in die dorp plaasgevind.

Hy laat sy vrou, Annatjie, vier kinders, sy suster, asook vier kleinkinders na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button