Local newsNews

Kommer by staatshospitale

Daar is meer as 10 miljoen mense wat werkloos is en slegs 7,1 miljoen uit ’n bevolking van sowat 58 miljoen mense betaal belasting.

“Ons het vooraf geweet in watter toestand ons hospitale sou aantref tydens ons feitesending.”

Dít was die woorde wat Lindy Wil-son, LP en die DA se adjunkwoordvoerder oor gesondheid, nadat ’n groep prominente DA-lede die F.H. Odendaal- en Warmbad-hospitaal op Dinsdag 13 Augustus besoek het.

Daar is bevind dat albei hospitale ’n nypende personeel- en toerustingtekort ondervind en dat die infrastruktuur baie aandag nodig het en selfs op plekke vervalle is, het Wilson gesê.

“Die twee hospitale word onder omstandighede goed bestuur, maar weens die groter behoefte vir gesondheidsorg, die groeiende bevolking, begrotings wat verkeerd aangewend word en gebrekkige prosesse, sukkel die hospitale om die beste sorg te bied.”

Sy het gesê die situasie kan toegeskryf word aan wanbesteding van die provinsiale begroting. Dit het aan die lig gekom dat 73% van die begroting aan salarisse bestee word en net 27% beskikbaar is om bedryfsrekeninge, kos, kantoorbenodigdhede, verbeterde mediese toerusting en instandhouding van die infrastruktuur te dek.

“Dit neem tans tot ses maande om ’n vakante pos te vul,” het sy gesê.

Volgens Wilson is daar ondersoek ingestel na klagtes dat pasiënte by die Warmbad-hospitaal nie kos kry nie. “Daar is tans geen kontrakteur om kos te voorsien nie en slegs vier kombuispersoneellede, met die hulp van ’n dieetkundige, is beskikbaar om die kombuis te bedryf.

“Daar is nou ’n plan B deur die verpleegpersoneel ingestel wat naweke en hul verlofdae gebruik om voedsel voor te berei,” het sy gesê.

Wilson meen dit is onbillik en dat personeel oorwerk raak en self aan gesondheidsrisiko’s blootgestel word. Die gevolg hiervan is dat hulle nie basiese gesondheidsorg kan lewer nie. Daar is ook bewerings dat personeel nie vir oortyd vergoed word nie.

Onsekerheid oor die nasionale gesondheidsversekeringswetsontwerp dra volgens Wilson ook by tot die toestand.

Die NGV-wetsontwerp is vroeër deur die regering goedgekeur. Die kommer oor die beoogde wetgewing sluit egter in dat ’n groter las geplaas word op die belastingbetaler en dat wanadministrasie sal vererger. Kenners reken wanadministrasie en belastingheffings moet eers verbeter voordat die regering aan ’n NVG kan dink.

Wilson meen die wetsontwerp is ’n manier vir die ANC om stemme te werf vir die munisipale verkiesing in 2021.

“Die mediese nalatigheideise teen die departement in Limpopo staan tans op ongeveer R1,8 miljard en nasionaal op meer as R80 miljard. Die gesondheidsorg in groot en klein staatshospitale is reeds onder druk. Hoe gaan die NGV die huidige gesondheidsorg, wat reeds gratis is, kan regruk?”

Die wetsontwerp bied geen duidelikheid oor watter dienste deur die NGV beskikbaar gestel sal word nie. Die omskrywing is ’n vae gesondheidsorgdiens. Dit blyk dat spesialisdienste slegs deur voorafgoedkeuring van die NVG sal geskied.

Luidens ’n parlementêre verklaring is die komitee oor gesondheid tans besig om ’n regsmening in te win nadat talle lede van die publiek beswaar gemaak het en beweer dat die wets-
ontwerp ongrondwetlik is.

  • Wilson raai mense aan om hul ontevredenheid met diens en versorging by staatshospitale by die departement aan te meld, maar dit ook onder haar aandag te bring. Sy kan bereik word by tel. 082 353 9648 of rig ’n e-pos aan wilsonworx@webmail.co.za(.)

Related Articles

Back to top button