Local newsNews

Jagter veg om sy lewe ná onderonsie met buffel

Die buffel het hom gestamp en sowat twee minute lank op die grond vasgepen.

’n Beroepsjagter van Modimolle veg om sy lewe in ’n provinsiale staatshospitaal in Polokwane nadat hy deur ’n buffel stormgeloop en ernstig beseer is.

FC Prinsloo (43) van Bushman’s Quiver Safaris was vandeesweek steeds in ’n kritieke, maar stabiele toestand nadat die buffel hom op Dinsdag 13 Augustus onverwags bestorm het. Hy was teen druktyd steeds onder sterk verdowing.

Stefan van der Merwe en veldwagters het dié draagbaar inderhaas uit takke geprakseer om FC Prinsloo uit ’n berg-
agtige gebied naby die Krugerwildtuin te dra tot by ’n helikopter nadat hy ernstig deur ’n buffel beseer is. Op die foto is Prinsloo se broer, Johan, by die draagbaar.

 

Die internasionale jagtersgemeenskap, asook inwoners van Modimolle, samel geld in om Prinsloo, wat nie ’n mediese fonds het nie, te laat oorplaas na ’n privaat hospitaal. Volgens sy broer, Johan Prinsloo, was FC se toestand teen Dinsdag 20 Augustus só ernstig dat hy nie geskuif kon word nie. Hy het erge beserings aan sy borskas en een van sy bene opgedoen.

Stefan van der Merwe, eienaar van die onderneming, het gesê dat hy en FC in die Makuya-reservaat naby Pafuri op soek was na tekens van olifante. Hulle het nie op daardie stadium gejag nie en FC se geweer het glo oor sy skouer gehang. FC het saam met ’n veldwagter en spoorsnyer gestap toe ’n buffel hom vanuit ’n digte bos bestorm.

Hy het volgens die veldwagter en spoorsnyer glo met sy .458-geweer op die dier geskiet toe hy sowat 2 m van hom af was, maar dit was tevergeefs. Die buffel het hom gestamp en sowat twee minute lank op die grond vasgepen. Die buffel, wat ’n strik om sy voorbeen gehad het, het daarna weggedraf. Die spoorsnyer het hulp ontbied en saam met Van der Merwe het hulle uit takke ’n draagbaar geprakseer.

FC het ’n ernstige oop borswond gehad en dringende mediese hulp was nodig. ’n Helikopter is ontbied, maar dit het sowat twee uur geneem om hom uit die bergagtige gebied te dra vanwaar die helikopter hom hospitaal toe kon neem, het Van der Merwe gesê. ’n Ambulans het in Masisi gewag en hom tot in Musina geneem waar hy gestabiliseer en weer per helikopter tot in Polokwane vervoer is. Verskeie dokters het ure lank in die teater gespook om sy lewe te red.

“FC is nog onder verdowing en ons kon nog nie self by hom hoor wat gebeur het nie,” het Johan gesê. “Sy vrou Estelle is elke besoektyd by hom.” Hoewel die bloeding teen Dinsdag onder beheer was, het hy koors gehad as gevolg van infeksie. “Ons bid baie hard dat hy sal herstel. Daar lê ’n baie lang en duur pad na herstel vir hom voor en ons is bekommerd,” het Johan gesê.

“Ons is diep geraak deur al die mense wat help om geld in te samel sodat hy beter mediese sorg kan kry.” Hy het gesê dat privaat dokters kontak hou met die personeel wat hom tans behandel.

“FC se passie was jag en veldfietse. Ons vertrou omdat hy redelik fiks is, dit sal help dat hy makliker herstel,” het Johan gesê. Sy ouers, Johan en Nicolene, woon buite die dorp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button