Local newsNews

Dié stappers gee om vir bejaardes

Inwoners van Mookgophong het op Saterdag 10 Augustus hul stapskoene vir ’n pretloop aangetrek en daarmee gehelp om geld vir die Naboom Tehuis vir Bejaardes in te samel.

Die pretloop is op Hoërskool Hans Strijdom se terrein aangebied. Rinette Louw, wat op die projekkomitee van die bestuur van die tehuis dien, het die blink gedagte gekry om ’n “kierieloop” aan te bied. Sy was verantwoordelik vir al die reëlings en borge van die dag.

Van die 2-jarige HP Erasmus tot die 84-jarige Barbie Bredenkamp het die oggend opgedaag om saam te stap. ’n Hele paar jong mammas het met hulle babas in stootwaentjies opgedaag.

Meer as 200 stappers en drawwers het aangemeld, toegang betaal en die staptog voltooi. Roetes op die terrein het oor 2 km en 4 km gestrek en die 8 km-roete is op die Constantia-pad voltooi.

Hercules Louw, bestuurder van die tehuis, het sy dank uitgespreek vir elkeen se bydrae en het groot waardering gehad vir die borge wat sonder om te huiwer hande in die sakke gesteek en ruim bygedra het.

Daar was ook prysgeld vir die onderskeie kategoriewenners en elke deelnemer het weggestap met ’n silwer medalje.

Louw het aan Die Pos gesê hulle beplan sedert verlede jaar aan die dag en dit was ’n reusesukses.

Die opbrengs sal aangewend word om mediese toestelle by die tehuis te vervang.

Die tehuis se jaarlikse basaar vind op Saterdag 7 September plaas en op Donderdag 26 September word ’n formele ete, met keur wildsvleisgeregte op die spyskaart, aangebied.

Die polisie-orkes sal by hierdie geleentheid optree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button