Local newsNews

Bela-Bela groet geliefde ds. Piet

Inwoners van Bela-Bela is diep getref deur die dood van een van die dorp se geliefde inwoners, ds. Piet Smit (89).

Smit is by sy huis in die dorp oorlede, skaars drie maande nadat sy vrou, Rita (88), ook by die egpaar se huis in Moffatstraat gesterf het.

Volgens ’n familielid het ds. Piet sy bediening in Durban begin. Hy is in 1961 na die NG-gemeente Nylstroom Oos beroep. In daardie jare is daar nog kerk gehou in Laerskool Eenheid se skoolsaal.

Ds. Piet was betrokke by die opstel van die planne vir die bou van die Oos-kerk, maar voordat dit kon gebeur, is hy in 1970 na die NG Moedergemeente in die destydse Pietersburg beroep.

Hy het in 1996 afgetree en saam met Rita in Bela-Bela gaan woon waar sy haar uitgeleef het in haar skilderwerk en hy baie betrokke geraak het by gemeenskapsdiens. Ds. Piet het onder meer op die bestuur van die Warmbad Rusoord en Emmarentia Geldenhuys-sendingsentrum gedien. Hy het ook gereeld afgelos wanneer ander predikante met verlof was en het in dié tyd selfs in Botswana gaan preek waneer hy daar nodig was.

Ná sy dood het verskeie mense Die Pos gekontak en vertel watter invloed ds. Piet op hul lewens gehad het. Kotie Wagner, Die Pos se ontvangsdame wat in die Bosveld grootgeword het, het onder meer vertel sy onthou tot vandag toe ’n preek van hom toe sy omtrent in st. 7 (gr. 9) was. “Hy het gepreek dat daar nie iets soos toeval is nie. Ek onthou daardie preek tot vandag toe.”

Die egpaar word oorleef deur hul drie seuns, Pieter, Coenraad en Louis, en hul gesinne.

Ds. Piet se roudiens is reeds vanuit die NG-gemeente Warmbad-Wes gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button