Local newsNews

Dorp in rou oor nóg ’n inwoner eie lewe neem

Die mooi donkerkop was onder haar vriende as “Wild Jasmine” bekend

Die Vaalwater-gemeenskap is verslae nadat ’n tweede jong lewe onverwags van hul weggeruk is.

Lizel Coetzer is op Donderdagoggend 1 Augustus oorlede nadat sy haar eie lewe geneem het. Dit volg skaars twee maande nadat Jan Breet (32), ’n boer van Vaalwater, homself geskiet het. Breet en Coetzer was goeie vriende.

Lizel Coetzer het dié foto van haarself en ’n vriend, Jan Breet, ’n dag ná sy dood op Facebook geplaas. Albei jongmense het hulself om die lewe gebring.

 

Die 26-jarige Coetzer het by haar gesin se familie-onderneming, Vaalwater-besproeiing, gewerk. Sy is die dogter van Kian en Anne-marie Coetzer van Vaalwater.

Die mooi donkerkop was onder haar vriende as “Wild Jasmine” bekend en het die medalje wat sy einde Junie verwerf het nadat sy ’n halfmarathon voltooi het, op Facebook aan Breet opgedra.

Tientalle vriende het ná haar dood op dié sosiale media-platform hul meegevoel betoon en vertel dat sy ’n positiewe, liefdevolle mens met groot drome was.

Haar swaer, Armando Salazar, het aan Die Pos gesê dat sy in die vroeë oggendure gesterf het. ’n Huiswerker het op haar afgekom en haar pa geroep wat tevergeefs probeer het om haar te red.
“Dit is ’n baie moeilike tyd vir haar familie,” het Salazar gesê.

Coetzer, wat ’n leerder aan Hoërskool Nylstroom was, het somatologie by die Centurion Academy gestudeer voordat sy by die familie-onderneming aangesluit het.

Sy laat haar ouers, asook haar susters, Chanel Smook en Nadia Salazar, agter.

Ds. Tiaan Loedolff het bevestig dat Coetzer op Donderdag 8 Augustus om 12:00 vanuit die Hervormde Kerk in Vaalwater ter ruste gelê sal word.

  • Wanneer probleme, hartseer of depressie jou oorweldig, reik uit na iemand wat kan help. Dit help om te praat oor wat kwel en daar is kenners wat kan help. Die meeste dorpe in Die Pos se lesersgebied het beraders wat kan luister en goeie raad en ondersteuning kan gee. Die Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep moedig mense wat selfmoord oorweeg aan om hulle te skakel by tel. 0800 567 567. Hulle webwerf (www.sadag.org) bied inligting oor angs, depressie, bipolêre gemoedsversteuring, traumaverwerking en ander onderwerpe.

Related Articles

Back to top button