Local newsNews

Skool is baie hartseer oor ‘Juffrou Hannelie’ se dood

“Ons gaan daardie lag-uit-haar-maag met haar oë wat toetrek van die pret, vreeslik baie mis.”

Hannelie Beytell, ’n geliefde onderwyser aan Laerskool Nylstroom, is op Woensdag 24 Julie ná ’n lang siekbed oorlede.

Die nuus van die 53-jarige Beytell se afsterwe het haar gesin, asook ouers, leerders en personeel van die skool hard getref.

Leerders aan Laerskool Nylstroom het hul geliefde juffrou Hannelie gegroet deur briefies op die skool se aansteekborde te laat.

 

Kinders en onderwysers wat mekaar Woensdag in trane ondersteun het, was ’n weerspieëling van die invloed wat sy op diegene om haar gehad het. Die skool het aktiwiteite vir die res van die dag opgeskort en die aansteekborde was die volgende dag vol briefies van kinders wat van haar afskeid neem. Sy het klas gegee vir gr. 4-7-leerders.

Beytell laat haar man, Manus, en twee dogters, Leandi (’n onderwyser by Eenheid Primary School) en Izette (’n matriekleerder aan Hoërskool Nylstroom) agter, asook haar twee susters, Rosanet Nel en Martie Steenberg.

Beytell en Hempies du Preez, hoof van die skool, was 25 jaar lank kollegas.

“Sy was ’n toegewyde mens wat nie die kwaad in ander raakgesien het nie. Sy het altyd haar hand opgesteek as ons vir hulp van die personeel gevra het. Ek het vir haar gesê sy is soos ’n Venter-sleepwaentjie — die kinders het altyd hul probleme by haar gaan aflaai,” het Du Preez aan Die Pos gegsê.

“Sy het met haar moederlike instink altyd raakgesien watter kind ondersteuning nodig het en het vir hulle liefde gegee. Dit is wat van haar so ’n geliefde onderwyser by oud en jonk, seuns en meisies, gemaak het. Sy kon egter ook baie streng wees.

“Hannelie het nie pretensies gehad nie en het die lewe met ’n vonkel in die oog aangepak. Ons gaan daardie lag-uit-haar-maag met haar oë wat toetrek van die pret, vreeslik baie mis.”

’n Roudiens word op Vrydag 2 Augustus om 11:00 by die Hervormde Kerk Nylstroom gehou.

Related Articles

Back to top button