Local newsNews

Sakekamer maak stem dik oor hersonering

Die Naboom-sakekamer het tydens sy vergadering op Woensdag 24 Julie talle belangrike sake rakende sakeondernemings en inwoners van Mookgophong bespreek.

Mokone (Anton) Du Preez, voorsitter van die sakekamer, het sy kommer uitgespreek oor die toename van huisbrake in die dorp en diefstal uit voertuie in die sakegebied. Hy het ook benadruk dat inwoners hul oë en ore moet oophou om misdaad te help bekamp. Du Preez het daarop gewys dat die gemeenskap sal moet saamstaan, ongeag kleur en politieke oortuigings, om misdaad te bekamp.

“Die sakekamer is a-polities en kan nie toelaat dat persoonlike oortuigings ons eensgesindheid in die wiele ry nie,” het hy gesê.

Die komitee het voorgestel dat daar verdere portefeuljes geskep moet word vir fondsinsameling en kultuursake. Du Preez het bevestig dat nuwe komiteelede tydens die jaarvergadering aangewys sal word.

Die sakekamer het voorts sy misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop die munisipaliteit kennisgewings aan eienaars gerig het oor die sonering van woonpersele wat vir sakedoeleindes gebruik word. Na verneem word, het sowat 60 sakemense briewe ontvang waarin hulle 14 dae grasie gegee word om hul wooneiendomme te laat hersoneer of hul sakeondernemings te verskuif of te sluit.

Die kennisgewings is op Maandag 15 Julie aan sakeondernemings gegee, maar die dokumente is vir 1 Julie 2019 gedateer, het die vergadering gehoor. Dit het tot groot verwarring en ’n geskarrel gelei.

“Daar is geen ordentlike konsultasies gedoen of kennisgewings gelewer nie en boonop was die sperdatum reeds verby voordat die kennisgewings afgelewer is.

Ons het geen probleem om die sonering te doen nie, maar dan moet dit op die korrekte wyse gedoen word,” het Du Preez gesê.

Volgens Du Preez het burgemeester, Marlene van Staden, onderneem om die kennisgewings te hersien met billike voorwaardes wat vir die betrokke sakemense aanvaarbaar sal wees.

Die sakekamer se komiteelede het eenparig besluit dat die munisipale wette toegepas moet word ongeag in watter sektor se woongebied daar handel gedryf word.

Related Articles

Back to top button