Local newsNews

Brand rig groot skade by bekende vakansieoord aan

“Dis bykans onmoontlik om ’n grasdak wat brand, te blus.”

Die eienaars van die historiese Thandile Country Lodge op die Alma-pad buite Bela-Bela is baie hartseer nadat een van hulle pragtige grasdakwooneenhede op Saterdag 27 Julie afgebrand het.
Die brand het vermoedelik teen skemer in een van die lodge se boskampe ontstaan.

Cobus Daniël, eienaar, het aan Die Pos gesê gaste wat die naweek in dié wooneenheid oorgebly het, het glo vuur in die kaggel gemaak en van die vlamme het op ’n manier na die grasdak gespring, waarna die brand baie vinnig versprei het.

“Dis bykans onmoontlik om ’n grasdak wat brand, te blus. Gelukkig het die vlamme nie na van die ander geboue versprei nie. Hoewel die brand beperk is, het ons steeds derduisende rande se skade gely.”

Inwoners en gaste van omliggende lodges het hulle na die brandende eenheid gehaas om hulp te verleen. Noodoproepe is dadelik na lede van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) versprei. Ondanks al die hulp, het die grasdakgebou nietemin in ligte laaie opgegaan en is dit onherstelbaar beskadig.

“Gelukkig kon daar danksy almal se hulp van die meubels en ander items betyds uit die eenheid verwyder word,” het Daniël gesê. Daar is alternatiewe verblyf vir die gaste wat in die eenheid oorgebly het, gereël.

“Dit is iets wat gebeur het en ’n mens kan nie daaroor kwaad bly nie. Die gaste het verskoning gevra oor wat gebeur het. Ons sal die eenheid maar net weer een of ander tyd herbou sodra ons kan. Dit help nie om te kla nie, want ons is vol bespreek tot in Desember,” het Daniël gesê.

Geen saak is by die Bela-Bela-polisie geopen nie.

Related Articles

Back to top button