Local newsNews

Oudinwoner van Bela-Bela oorlede

Die familie van Gerhard Göldner (61), ’n oudinwoner van Bela-Bela, het op Maandag 22 Julie van hom afskeid geneem nadat hy in die Hoogland Medi-kliniek in Bethlehem aan kanker oorlede is.

Volgens Louise Le Roux, sy suster, is haar broer vier jaar gelede met kanker gediagnoseer.

Göldner is in Bela-Bela gebore en getoë. Hy was ’n leerder van Laerskool en Hoërskool Warmbad. Hy het ná skool by die polisie aangesluit, maar het kort daarna by Eskom begin werk waar hy baie jare as elektrisiën diens gedoen het.

Die gesin het in 2012 na Frankfort verhuis waar Göldner in die privaat sektor gewerk het.

Sy familie sal hom onthou as ’n goeie, hulpvaardige en hardwerkende mens. “Hy het graag sy medemens gehelp.”

Le Roux het gesê enigiemand kon op hom reken vir goeie raad en oplossings vir struikelblokke. Hy was geliefd en sy familie gaan hom baie mis.

Göldner se roudiens vind om 12:00 op Dinsdag 30 Julie in die NG-gemeente in Frankfort plaas.

Hy laat sy bejaarde pa, Gerhard, sy twee susters, Marita Barr en Le Roux, asook sy vrou, Susan, en drie kinders Gerhard, Robert en Sonél Opperman agter. Hy was ook die oupa van drie kleinkinders.

Related Articles

Back to top button