Local newsNews

Honderde duiwe brand dood

“’n Mens kan nie werklik ’n waarde aan wedvlugduiwe heg nie, want hulle word vir derduisende en selfs miljoene rande verkoop.”

Bykans 200 wedvlugduiwe is op Dinsdagaand 16 Julie op ’n plaas in die Roodekuil-omgewing buite Bela-Bela dood nadat iemand vermoedelik die duiwehokke aan die brand gesteek het.

Frank Ferreira, eienaar en stigter van die Sonskyn One Loft (SOL)-duiweklub, het aan Die Pos gesê hy het ongeveer 200 duiwe in die brand verloor. Die brand het vermoedelik om 20:15 die aand uitgebreek.

Die voorval het by sy privaat huis in die Roodekuil-omgewing plaasgevind en nie op die perseel langs die R101-pad na Radium waar hy verlede jaar nuwe hokke gebou het nie. Dié perseel is juis gebou om wedvlugkompetisies en belangstelling in dié sport te bevorder.

Ferreira het gesê sy duiwe, wat van regoor die wêreld kom, word deur hom afgerig om aan groot wedvlugkompetisies deel te neem.

Die skade wat aan sy hokke aangerig is, het hom hard getref.

“Niemand weet presies wat gebeur het nie, maar die duiwe was in die hokke vasgekeer. Die brand het ongelooflik vinnig versprei.”

Die Roodekuil, Turfbult en Langkuil-buurtwag (RTL) het binne minute by die toneel opgedaag en gehelp om die brand te blus. Ferreira sê hy is dankbaar vir almal wat gehelp en gered het wat hulle kon. Die duiwehokke is die enigste struktuur wat deur die brand verwoes is.

“’n Mens kan nie werklik ’n waarde aan wedvlugduiwe heg nie, want hulle word vir derduisende en selfs miljoene rande verkoop. Die skade is op hierdie stadium nog nie bepaal nie. Dit is ’n nagmerrie.”

Volgens Ferreira was daar kort voor die uitbreek van die brand ’n verdagte voertuig naby die perseel, maar dit is tans onseker of dié voertuig met die brand verband hou.

Harold Spencer van RTL het by navraag gesê die voorval word tans as ’n eenmalige voorval beskou waarin die polisie alle moontlike leidrade moet opvolg.

Hoewel Ferreira nie meer aan wedvlugte deelneem nie, het hy gesê dat beoogde kompetisies by die nuwe perseel steeds sal voortgaan.

Teen druktyd is daar nog geen saak by die Bela-Bela-polisie aangemeld nie.

Ferreira word onder wedvlugduifeienaars as ’n puik duiweboer gereken en het oor die jare verskeie kampioenskaptitels ingepalm.

Wian Joubert van die Sonskyn-duiweklub het by navraag gesê die klublede is geskok en hartseer oor die tragedie wat Ferreira getref het.

“Ons beoog om ’n fondsinsameling te hou sodat hy nuwe hokke kan bou en weer saam met ons aan wedvlugte kan deelneem.”

Related Articles

Back to top button